
Suid-Afrika se top olyfolieprodusente is met goue medaljes vereer op die negende SA Olive-toekennings.
By vanjaar se toekennings het 17 ekstra suiwer olyfolies in drie kategorieë goue medaljes ontvang. 'n Paneel van olyfoliekenners het die olies se smaak en aroma beoordeel volgens die gehalte, kompleksiteit en balans.
Die lys van goue medaljewenners is:
Delikate olyfolie: Cederberg Olives, Muiskraal en Porterville Olives.
Medium-olyfolie: Tokara en Willow Creek het elk twee goue medaljes losgeslaan, terwyl Gabriëlskloof, Groote Vallei, Rio Largo Olive Estate en Voordenberg elk ’n goue medalje gewen het.
Intense olyfolie: L'Ormarins, Marbin Farm, Morgenster Estate, Mulderbosch Vineyards, Rio Largo Olive Estate en The Ou Pastorie.
'n Verdere 35 silwer en 14 brons medaljes is toegeken.
Me. Leana Stevens van Olyfberg het die SA Olive Mentorskap-toekenning ontvang. Dié toekenning gee erkenning aan individue wat die sukses van die bedryf se mentorskapprogram verpersoonlik. Van die 113 deelnemers wat vir vanjaar se mentorskap-program ingeskryf het, is talle reeds by die program betrokke sedert die ontstaan in 2008.
Vir vanjaar se kompetisie is aansienlik minder inskrywings as verlede jaar ontvang. Volgens mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, kan dié afname toegeskryf word aan 'n moeilike oesseisoen. "Die uitdagende oestoestande het geweldige druk op produksie geplaas, maar in weerwil was die gehalte van die inskrywings uitstekend en daarvoor verdien die medaljewenners die hoogste lof.”
Die SA Olive-toekennings word deur Absa, Alfa Laval, Oliomio TEM en Pieralisi geborg.