
Suid-Afrika se moordsyfer het oor ’n kwessie van agt jaar, tussen die boekjare 2004/’05 tot 2011/’12, van sowat 18 000 moorde per jaar tot minder as 16 000 moorde per jaar gedaal, aldus mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie. Dít verteenwoordig ’n daling van 27,6%.
Mthethwa het Donderdag (20 September 2012) die afgelope boekjaar se misdaadstatistiek in die Parlement bekend gemaak. Luidens ’n berig op News24.com het die moordsyfer tussen die boekjare van 2010/’11 en 2011/’12 met 3,1% gedaal. Plaasmoordstatistiek word by dié syfer ingereken.
Ophef
Mnr. Kobus Breytenbach, ondervoorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê enige daling in misdaadsyfers is gunstig: “Ons is egter steeds bekommerd oor die feit dat die syfer so hoog is. Dit is veral baie hoog as ons dit met dié van Eerstewêreldlande vergelyk.”
Breytenbach sê dit is ook vir hom interessant dat die staat nie so ’n groot ophef maak van inisiatiewe om misdaad, soos moorde, in Suid-Afrika te voorkom as wat byvoorbeeld die geval met padsterftes is nie.
“Daar word veral rondom Paasnaweek en in vakansietye ’n groot ophef gemaak van die “Kom veilig daar”-veldtog, maar ’n soortgelyke veldtog bestaan nie ten opsigte van moord en ander misdade nie.”
Volgens Breytenbach kan die suksesvolle implementering van die Landelike Beveiligingstrategie, wat verlede jaar in die Vrystaat bekend gestel is, ’n aansienlike afname in misdaad in landelike gebiede tot gevolg hê.
Toename
Intussen sê mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van die TLU SA se veiligheidskomitee, dié afname het volgens hom op die gewone mens op straat betrekking. “Daar is beslis ’n toename in plaasmoorde, in aanvalle en moorde in dorpe, stede en op plase.”
Mthethwa het ook ’n daling van 3,7% in syfers van seksuele misdade aangekondig. Volgens die syfers het verkragting met 1,9% gedaal. “Ons moet egter klem daarop lê, dat ons, as die Regering, steeds bekommerd is oor die vlaag van verkragting in ons land.”
Bron: News24.com