
Dieeerste streekkompetisie tot die aanloop van die Suid-Afrikaanse ploegkampioenskap het by Hennenman plaasgevind.
Die wenner van die senior afdeling was mnr. Paul Vorster op wie se plaas die byeenkoms gehou is. Mnre. Paul Vorster jr. was tweede en Attie Meintjies van Kroonstad derde.
Wikus Alberts het die junior afdeling gewen, met Jaco Pretorius tweede. Albei is van Nigel en is leerders aan die Hoërskool John Vorster.
Mnr. Rudi du Toit was die ploegmeester en die beoordelaars was mnr. Johan en me. Irene Lotter, mnr. Kobus van Straaten en me. Susan du Toit.
Die ander ploegkompetisies in die reeks is aanstaande Februarie by die Landboukollege Weston op Mooirivier, in Maart by die Oewer-landboufees op Tzaneen, in April by die Landbouskool Bekker op Magaliesburg en in Mei by die Windpompfees op Mookgophong.
Die wenners neem almal in Mei aan die nasionale kompetisie tydens die Nampo-Oesdag op Bothaville deel.
Dáár sal bepaal word wie Suid-Afrika op die volgende wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig. Die finale datums sal later bepaal word.
Die kompetisie word deur die Suid-Afrikaanse Ploeg-organisasie (SAPO) met die samewerking van Landbouweekblad as mediavennoot, BKT, Tubestone en Graan SA aangebied.