Die uitvoermark vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte na sy nuwe vennote van die Ooste tot die Arabiese lande het gunstige balanse.
Suid-Afrika is egter steeds ’n groot invoerder van verwerkte kos wat verlede jaar sowat R10 miljard beloop het. Dié neiging dui daarop dat die land daaraan moet werk om belegging in die verwerkingsektor aan te moedig, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Sy het haar departement se begroting van R5,8 miljard vir die 2012/’13 boekjaar in die Parlement ter tafel gelê.
Die land se uitvoer van primêre en verwerkte kos het van R10 miljard in 1996 tot sowat R48 miljard in 2011 gestyg. “Uitvoer en invoer volg mekaar nou na en is ook op ’n manier aan mekaar verbind.
“Die netto handel in voedsel het sikliese bewegings en word sterk beïnvloed deur die wisselkoers en wêreldkommoditeitsmarkte, wat geraak word deur die globale vraag en aanbod en klimaatstoestande.”
Met die ekonomiese krisis in Europa en Amerika moes die land ander handelsvennote kry om te verseker dat die landboubedryf nie ondergaan nie.
Meer landbougoedere is na Asië uitgevoer. Dié Asiatiese invoer het die afgelope vyf jaar groei van R1,42 miljard in 2006 tot R4,03 miljard in 2010 getoon.
Joemat-Pettersson sê uitvoer na China is die afgelope twee jaar bestendig met R2,1 miljard. Die handelsbalans vir produkte van die landbou, bosbou en visserye tussen Suid-Afrika en die voormalige Sowjet-unie-lande is in Suid-Afrika se guns met sowat R80 miljoen.
Joemat-Pettersson het tot die gevolgtrekking gekom dat die belangrikste groei in die hoofuitvoerlande vir Suid-Afrikaanse uitvoer van landbouprodukte oor die afgelope dekade na Asiatiese lande was.
“Dit is sekerlik die resultaat van aktiewe, politieke verhoudings en die voortdurende groeikoers van hierdie lande tesame met die verandering in die verbruikspatrone.”
Sy het aangedui dat handel met die vennote in die Europese Unie en Amerika sal voortgaan, maar dat dit minder beduidend sal wees, want nuwe geleenthede word elders ontgin.
3 Mei 2012