
Suid-Afrika se voedselsekerheid is die hoogste in Afrika suid van die Sahara, en uit die hoër middelinkomste-lande waarmee Suid-Afrika vergelyk kan word, is hy vanjaar tiende uit 25 lande.
Volgens die wêreldwye voedselsekerheidsindeks wat verlede week internasionaal bekend gemaak is, het Suid-Afrika vanjaar ’n hoër telling as verlede jaar gehad, maar sy posisie het van 46 tot 47 geval uit die 113 lande wat gemeet is. Dié gesaghebbende verslag word jaarliks deur die Economist Intelligence Unit, ’n wêreldleier in besigheidsintelligensie, in opdrag van DuPont Pioneer gedoen.
Mnr. Prabdeep Bajva, DuPont Pioneer se streekdirekteur vir Afrika, sê die nadelige invloed van vanjaar se droogte sal waarskynlik eers meer merkbaar wees in volgende jaar se indeks. ’n Land se voedselsekerheid word gemeet aan die hand van 28 aanduiders wat breedweg verdeel word in bekostigbaarheid, beskikbaarheid en gehalte/veiligheid. Suid-Afrika het onderskeidelik 58,6, 68,1 en 59,7 uit 100 hiervoor ontvang.
Suid-Afrika se sterk punte is onder meer voedingsgehalte-standaarde en voedselprogramme om armes teen prysskokke te beskerm. Die doeltreffendheid van die land se voedselvoorraad, die landbou se infrastruktuur en die gemiddelde huishoudelike besteding aan kos het gemiddelde syfers behaal. Die land se grootste swakhede lê by die gedeelte van die bevolking wat onder die globale armoedevlak leef, toegang tot finansiering vir boere en die beskikbaarheid van vitamine A in dieëte.
“Suid-Afrikaanse boere se aanpassing by nuwe tegnologie is uitstekend maar daar kan beslis aandag gegee word aan die beleidsomgewing, navorsing en ontwikkeling en die bekamping van korrupsie,” het Bajva bygevoeg.
Hy sê oor die vyf jaar wat die indeks nou al gedoen word, was daar ’n duidelike verbetering in die wêreld se voedselsekerheid. Die hoër middelinkomste-lande het die grootste verbetering getoon. Die gemiddelde huishoudelike besteding aan kos oor die hele indeks het oor die vyf jaar met 11% afgeneem, bykans 70% van lande het omvattende voedingstandaarde in plek en ontwikkelende lande het ’n groter verskeidenheid in hul dieëte.
Wêreldwyd het die VSA, Ierland en Singapoer die beste gevaar en Chad, Sierra Leone en Burundi die swakste.