Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) wys in sy verslag oor die Junie-inflasiekoers daarop dat Suid-Afrika se voedselinflasie van 8,6% goed vergelyk met Zambië se 11,9%, Kenia se 13,8% en Brasilië se 13,9%. Die maandelikse stygings is egter die vierde vinnigste ná die Europese Unie, Amerika en China.
Voedselinflasie in daardie gebiede was onderskeidelik 11,6%, 10,4% en 2,9%. BFAP sê sy empiriese navorsing toon dat dit drie tot vier maande duur vir prysskokke in graan- en oliesaadmarkte om ten volle in kleinhandelpryse te weerspieël, en die Junie-inflasiesyfers wys die impak van die Russiese inval in Oekraïne.
Gewilde kosprodukte wat inflasie van 10% of hoër ervaar het, was stapelgraan (koring- en mieliemeel, brood en pasta), bees-, skaap- en hoendervleissnitte, groentesoorte (broccoli, komkommer, beet, kool, blomkool en blaarslaai), blikkiesbone, pynappels, avokado’s, kitskoffie en verromers.