Hoewel die Springbokke vanjaar met die Drienasie-rugbyreeks en die Wêreldbeker aan die agterspeen gesuig het, het die land se handskeerders daarvoor vergoed. Hulle het in Otago, Nieu-Seeland, met die handskeer-louere in die Drienasie-skeerkampioenskap weggeloop.
Mnre. Zweliwile Hans en Mayinzeke Shweni het in dié Suid-eilandse dorpie die eerste plek verower, gevolg deur Nieu-Seeland en Australië in die derde plek.
Hans is reeds op drie geleenthede as die wêreld se kampioen-handskeerder bekroon. Hy sal volgende jaar in Maart die prestasie in Masterton, Nieu-Seeland, probeer herhaal wanneer die volgende skeerkampioenskap daar aangebied word.
In die masjienskeerafdeling is Nieu-Seeland eerste geplaas, gevolg deur Australië en Suid-Afrika derde. In die gekombineerde afdeling vir masjienen handskeer het Suid-Afrika tweede geëindig. Nieu-Seeland was in dié afdeling die wenner en Australië derde.
Mnr. Izak Klopper, die bestuurder van skeeropleiding by die NWKV, het aan Landbouweekblad gesê dat die Suid-Afrikaanse span intussen na Australië vertrek het waar hulle aan plaaslike kompetisies daar sal deelneem.
9 Oktober 2011