
Suid-Afrika het weer geseëvier in die handskeerafdeling van die Golden Shears Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskappe wat die afgelope naweek in Gorey, Ierland, gehou is toe Mayenzeke Shweni as die nuwe wêreldkampioen gekroon is.
Sy spanmaat, Zweliwile Hans, die verdedigende kampioen, was in die tweede plek. Shweni, wat sewe skape in 17 minute en 21,2 sekondes geskeer het, was die naaswenner tydens die vorige wêreldkampioenskappe in Nieu-Seeland twee jaar gelede.
Die 50-jarige Hans, wat sy sewe skape in ’n vinniger tyd ¬– 16 minute 24,2 sekondes – geskeer het, het egter meer foute gemaak en moes die knie voor Shweni buig. Skeerders word beoordeel volgens spoed en tegniek. Die twee het ook die spanafdeling vir handskeer gewen. Hans het egter die ope afdeling vir handskeer van die Ierse skaapskeerkampioenskappe gewen, met Shweni in die tweede plek.
Die groot uitdaging vir die skeerders was dat hulle die groot Britse skape, hoofsaaklik Texel en Suffolk, moes skeer. Dié skape is nie net groter en swaarder as die Merino's waaraan hulle gewoond is nie nie, maar het ook langer wol.
Die masjienskeerders en wolhanteerders kon nie die mas opkom nie en het nie die uitdunne gehaal nie. Volgens Izak Klopper, bestuurder: Skeerderopleiding van die Nasionale Wolkwekersvereniging en spanbestuurder, is die gehalte van skeer van die Suid-Afrikaanse masjienskeerders uitstekend. "Hulle sukkel egter om vinnig genoeg te skeer wanneer hulle die groter dubbeldoelrasse moet skeer. Die sterker wol is boonop geneig om plat te val, wat hulle spoed ook breek. Dit gebeur nie met die Merino nie."
Skeerders uit 27 lande het aan die byeenkoms, wat as die Olimpiese Spele van skaapskeer bekend staan, deelgeneem.