
In die finansiële verslag wat op sy jaarvergadering in Bloemfontein voorgelê is, ly SA Stamboek wel nog ’n verlies van R1,172 miljoen teenoor die voorafgaande jaar, maar volgens die tesourier, mnr. Freddie Wasserfall, is die draaipunt binne die organisasie se bereik.
Dit is nou bykans drie jaar nadat SA Stamboek begin het om produksie-aantekeninge as deel van sy een-stop-diens te maak. Dit het groot finansiële verlies in die eerste jaar, in 2012, is omgekeer en ingevolge die 2015-begroting streef die organisasie daarna om in die huidige finansiële jaar gelyk te breek.Volgens Wasserfall lê die uitdaging vir verdere groei om meer telers by melkaantekeninge en bulgroeitoetse betrokke te kry.
SA Stamboek se inkomste het die afgelope drie jaar ’n konstante groei getoon en sy uitgawes het begin afplat. Dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder, sê die Suid-Afrikaanse stoetboer moes die afgelope jaar teen ’n agtergrond van uiterstes in die landbou produseer en reproduseer ten einde geneties meerwaardige diere aan die mark te voorsien. Volgens Van Rooyen het die uitbreiding in die wildbedryf nuwe geleenthede geskep wat SA Stamboek ’n betreklik suksesvolle jaar laat beleef het.
Hy het egter sy frustrasie vanuit ’n bestuursoogpunt uitgespreek weens onbevredigende samewerking van die Registrateur van Diereverbetering. “Die stoetbedryf is in die voordelige posisie dat daar ’n diereverbeteringswet is wat die aantekening, in- en uitvoer van genetiese materiaal en die bestuur van telersgenootskappe en registrerende owerhede, sinvol orden,” sê hy. “Ongelukkig is ons nie die reguleerders van die wet nie, maar die uitvoerders daarvan en kan so ’n wet slegs sy doel bereik en tot voordeel van die bedryf as dit behoorlik en konsekwent toegepas word.”
Van die sake van kritiek is onder meer die registrasie van Droughtmasters en Afrika-Hugenote in Namibië, terwyl die betrokke diere in Suid-Afrika aangehou word. Volgens hom is van dié aangeleenthede met mnr. Joel Mamabolo, die registrateur bespreek en oplossings kan verwag word.