
Selfs al boer Suid-Afrika op talle gebiede betekenisvol agteruit, is dit steeds “die land van melk en heuning”, sê 'n hoogleraar van Tukkies.
Prof. André Louw van die leerstoel vir agribesigheid aan die Universiteit van Pretoria het by die TLU se jaarkongres gesê in ’n indeks oor hoe maklik dit is om sake te doen, is Suid-Afrika 41ste geplaas en 'n land soos Nigerië, waar baie Suid-Afrikaners sake wil gaan doen, 147ste.
Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se jongste indeks van lande se mededingendheid het Suid-Afrika egter op verskeie gebiede van 2005 tot 2013 versleg.
Rakende samewerking in arbeidsverhoudinge en die gehalte van wiskunde- en wetenskap-opleiding het Suid-Afrika laaste uit 144 lande geëindig, terwyl die land in 2005 onderskeidelik 111de en 117de uit 125 lande was.
Die land het ook versleg rakende landboubeleidskoste (van 19de na 65ste), die vermorsing van staatsgeld (van 21ste tot 89ste plek), die sakekoste van misdaad en geweld (113de na 133ste), en betaling en produktiwiteit (94ste na 136ste).
Dit beteken werk is nodig om Suid-Afrika die land van melk en heuning te hou.
Louw sê egter die kwessies waarmee die land swak vaar, is bestuurbaar en kan reggemaak word.
Hy het in 'n strategiese risiko-ontleding van die land se landbou gesê die sektor se sterk punte sluit goeie bestuur, kommersiële prestasie, gebruik van tegnologie en landboubesighede in en dat die land 'n netto-uitvoerder van voedsel is.
Onsekerhede rondom grondhervorming is een van die groot swakhede, so ook minimumlone, Eskom en energiekwessies, werkers met swak vaardighede, gebrek aan landelike infrastruktuur, politici se besluite en beleidsveranderinge, en dalende boeregetalle.
Die bedreigings vir die sektor is mynbou op landbougrond, werkloosheid, klimaatskommeling, dalende buitelandse belegging en plaasveiligheid.
Louw sien egter geleenthede vir die landbou in onder meer uitvoer na en belegging in Afrika en verbruikers se veranderende voorkeure en groeiende besteebare inkomste.