
Inskrywings vir vanjaar se Suiwelkampioenskap stroom in én daar is ’n nuwe afdeling om in mee te ding. Die kampioenskap word al sedert 1834 deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, nou Agri-Expo, aangebied.
“Vanweë nuwe produkte in die varsmelk-kategorie het ons besluit om ’n kategorie vir vars en UHT-melk te skep waarin melkerye gewone melk sowel as innoverende produkte soos verrykte en laktoosvrye melke kan inskryf,” sê Agri-Expo in ’n mediaverklaring.
“Wenprodukte word as SA Kampioene bekroon en slegs produkte van besonderse hoë gehalte ontvang die Qualité-toekenning. Na die eerste rondte van beoordeling word die produkte wat Qualité-toekennings ontvang het, deur ’n paneel van vyf kundiges beoordeel, waarna die Produk van die Jaar aangewys word,” lui die verklaring.
Inskrywings vir vanjaar se kampioenskap sluit op 1 Februarie. Die beoordeling vind op 23 Februarie plaas, waarna die Qualité-dinee op 17 Maart by GrandWest in Kaapstad plaasvind.
Besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by cheese@agriexpo.co.za of 021 975 4440 vir meer inligting.