
Globale pryse van suiwelprodukte was volgens die voedselprysindenks van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) begin vanjaar 50% hoër as ’n jaar gelede.
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) sê in sy jongste verslag oor die belangrikste markaanwysers in die suiwelbedryf dat globale suiwelvooruitsigte steeds lewendig is. “Produkpryse is op baie hoë vlakke en die vraag groei in sowel ontwikkelde as ontwikkelende lande,” lui die verslag.
Ondanks hoër produsentepryse bly melkproduksie in Nieu-Seeland en Australië egter onder druk.
In teenstelling met wêreldneigings het melkprodusentepryse in Suid-Afrika die afgelope jaar met slegs sowat 8% gestyg, sê dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die MPO.
Steeds beduidende laer
Hier was die totale melkproduksie verlede jaar 2 788 miljoen liter, wat slegs 1,1% meer is as die vorige jaar s’n. In 2012 het produksie met 4,7% gegroei. ’n Paar verwerkers het sedert 1 September laasjaar prysverhogings aangekondig, maar luidens die verslag is pryse steeds beduidend laer as wat nodig is om produksiegroei aan te moedig.
Die groei sal na verwagting vanjaar onder 2% bly. Die onlangse skerp styging in pryse van produksiemiddele sal na verwagting in die komende maande ’n nadelige invloed op produksie hê.
Luidens die verslag was die totale maandelikse melkaanbod in 2013 ’n kommerwekkende 4% laer as in 2012. Die totale maandelikse aanbod bestaan uit die hoeveelheid melk geproduseer minus netto uitvoer (wat totale uitvoer minus totale invoer is). Hierteenoor het die vraag na suiwelprodukte in die jaar tot September 2013 na raming met 4,1% gegroei.
Die gaping tussen kleinhandel- en produsentepryse het van Augustus 2012 tot Desember 2013 met 18% vanaf R5,94/liter tot R7/liter vergroot.
Lees ook die onlangse berig oor die melkheffing.