Suid-Afrika se aandeel in verwerkte landbouprodukte in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het volgens die Verenigde Nasies binne drie jaar met 31% geval.
In 2007 het Suid-Afrikaanse verwerkte produkte die streek oorheers met 72%. Die res van die SAOG was verantwoordelik vir 13% van produksie, die Europese Unie (EU) vir 9%, Brasilië vir 1% en die res van die wêreld vir 5%.
Verlede jaar het dié syfers dramaties verander. Suid-Afrika se aandeel het tot het tot 41% gedaal, terwyl ander lidlande van die SAOG 22%, die EU 27%, Brasilië 6%, China 1% en die res van die wêreld 3% van verwerkte produkte verskaf het.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouingsverslag beveel aan dat dié neiging omgekeer moet word deur nuwe groeigebiede vir die plaaslike landbouverwerkingsektor te vind.
Ruimte vir verhoogde produksie
Die stygende inkomste en groeiende vraag na verwerkte produkte met hoër waarde dui daarop dat daar wel ruimte vir verhoogde produksie binne die verwerkingsektor is.
Me. Sandy Kruger, kommersiële bestuurder van grondstowwe by SAB, sê die mededingendheid en volhoubaarheid van die plaaslike landbou is ’n bron van kommer.
“SAB fokus op plaas like verkryging omdat ons meen dit is die enigste volhoubare opsie. Die waardeketting moet deur die bank aandag kry. Daar kan nie net op kommoditeite gefokus word nie.”
Om dít te bewerkstellig moet die Regering ’n stabiele beleidsomgewing daarstel, terwyl die private sektor moet saamwerk om ’n doeltreffende waardeketting te bewerkstellig.
29 Augustus 2011