Suid-Afrika se mielieverbruik het die afgelope jaar sterk gegroei en die eerste keer die kerf van 10 miljoen ton verbygesteek.
Die totale binnelandse mielieverbruik tot die einde van die bemarkingsjaar in April behoort op sowat 10,2 miljoen ton te staan te kom, beraam Graan SA. Dit is 10% meer as die vorige seisoen se verbruik.
’n Beraamde 4,6 miljoen ton witmielies is as voedsel verbruik en 1,4 miljoen ton wit en 3,4 miljoen ton geelmielies vir veevoer. Die verbruik van witmielies vir veevoer het skerp gestyg. Dit is amper vier keer meer as die vorige seisoen en het bykans ’n miljoen ton geelmielies uit die veevoermark verplaas.
Ook die verbruik van witmielies as kos het goed gegroei – met amper 300 000 ton vanaf die vorige bemarkingsjaar.
Mnr. Nico Hawkins, hoof van bedryfsbediening by Graan SA, het dié jongste ramings op ’n streekvergadering van die organisasie by Wolmaransstad bekend gemaak. Hy skryf die skerp toename in die verbruik van witmielies virdie veevoer- én die voedselmark toe aan die lae pryse wat deurgaans weens die groot witmielie-oorskot gegeld het.
Die totale mielie-aanbod was vanjaar ’n rekord van amper 15 miljoen ton. Dít sluit ’n rekordoes van 12,8 miljoen ton en ’n beginvoorraad van 2,1 miljoen ton in.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 4 Februarie 2011.
3 Februarie 2011