Die Suid-Afrikaanse verbruiker het homself uit die mark geprys, sê me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Die DA het sy veldtog geloods om Suid-Afrikaners se reg tot voedsel uit te lig en om toegang tot meer bekostigbare kos te bewerkstellig. Die Suid-Afrikaanse verbruiker wil hê sy kosprodukte moet mooi verpak wees en hy wil nie sy melkbeker neem om by die man om die draai melk te gaan koop nie, het sy gesê.
“Ons moet ‘n debat hieroor begin en aan mense uitwys hoe jy die kosprys kan verlaag.”
Groot uitdagings wag
Steyn het uitgewys dat die land groot uitdagings in die gesig staar met die drie komponente wat voedselsekuriteit raak. Dit is die beskikbaarheid, toeganklikheid en die verspreiding van kos.
Voedselproduksie in die land is ongunstig geraak deur die verwydering van staatsondersteuning vir die landbou, stygende insetkoste, ‘n onstabiele beleid en onredelike mededinging van die buitelandse markte.
Boonop het die minimum loon vir die landbousektor gestyg, dan is daar ook die voortdurende styging van brandstof en elektrisiteit wat boere se marge verder afdruk.
Volgens die DA se navorsing kos ‘n verskeidenheid basiese voedselsoorte, soos koolhidrate, proteïne, vrugte en suiwelprodukte, plaaslik tot 100% meer as in ander ontwikkelende lande soos Turkye, Maleisië en Indië.
15 Mei 2012