
Volgens Agbiz begin die hoër landboukommoditeitspryse weens die oorlog, asook die gevolglike hoër brandstofpryse, nou deursyfer na voedselprysinflasiedata.
Voedselprysinflasie was in Julie 10,1% op ’n jaargrondslag teenoor 9% op ’n jaargrondslag vir Junie, toon Statistieke Suid-Afrika se data. Dit is die hoogste toename sedert Januarie 2017, toe droogtetoestande kospryse opgejaag het.
Volgens Agbiz is voedselprysinflasie in Suid-Afrika steeds laer as in die meeste ander dele van die wêreld. Voedselpryse kan in die komende maande stadiger styg.
Die Pietermaritzburg-groep vir ekonomiese geregtigheid en waardigheid waarsku dat hoewel die tempo waarteen kospryse styg besig is om af te neem, moet in ag geneem word dat pryse aanhou styg, veral vir vroue.
“Die hoë koste van voedsel bly ’n groot krisis vir miljoene Suid-Afrikaanse families en belemmer mense se behoefte om ’n volle produktiewe lewe te lei, om behoorlike voedsame kos te kan bekostig en om gesond, wel en in beheer van hul toekoms te wees.”
Aandrywers
Hoër globale pryse vir graan- en oliesaad in die eerste helfte van die jaar het die hoër koste vir “brood en grane” en “olies en vette” vir inflasie in kospryse aangedryf, sê Agbiz. Die produkte dra ’n groot gewig in die kosmandjie.
Die pryse van produkte soos vleis (35%), brood en grane (21%), melk, kaas en eiers (17%), groente (8%), suiker, lekkers en nagereg (4%), olie en vette (3%) en vrugte (2%) het almal gestyg.
Pryse vir graan- en oliesaad, die hoofdrywers vir die styging in inflasie, begin stadiger styg en dit wys reeds in globale indekse.
Die Voedsel-en-landbou-organisasie se globale voedselprysindieks was gemiddeld 140,9 punte in Julie, en is 9% af sedert Junie. Dit is die vierde agtereenvolgende maandelikse afname.
Die neigings spoel oor na Suid-Afrika en sal in die komende maande in verbruikersvoedselprysinflasiedata wys. “Ons glo dus dat die spits in die plaaslike voedselverbruikerspryse bereik is.”
Vrugte- en groentepryse kan afwaartse druk beleef weens groot oeste in Suid-Afrika en die ontwrigting van vrugte-uitvoer binne die Swartsee en Europa.
Vleispryse blyk egter nog baie onseker te wees, weens die tydelike sluiting van sleuteluitvoermarke weens die bek-en-klouseeruitbrekings. Die stappe sou normaalweg lei tot ’n hoër aanbod op die plaaslike mark, wat pryse kan afdruk, maar volgens Agbiz is die uitbreking so wydverspreid dat dit kan lei tot ’n afname in slagsyfers by groot voerkrale. Anders as wat aanvanklik verwag is, kan dit dus tot ’n styging in rooivleispryse lei. “Dit bly onseker en ons sal die maandelikse slagaktiwiteit nouliks monitor.”
Die opskorting van die teenstortingstariewe van pluimveeprodukte sal die moontlike styging in pryse van pluimveeprodukte help beperk, minstens op kort termyn. Die breër vleisprysneigings sal afhang van die ontwikkelinge in die beesvleismark.
Kry Suid-Afrika op die regte pad
Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) waarsku dat Suid-Afrika sy sokkies sal moet optrek om te voorkom dat sy ekonomiese herstel ná die covid-19 pandemie stoom verloor.
Volgens die organisasie word ekonomiese aktiwiteit belemmer deur swakhede in produksiegroei en die ongunstige impak op koopkrag van die styging in voedsel- en energiepryse weens die Russiese inval op Oekraïne.
Volgens sy ekonomiese opname oor Suid-Afrika sal die land sy belastingstelsel moet verbeter en moet ondoeltreffendhede besteding van staatsgeld verminder word om die land weer op ’n volhoubare pad te kry. Deur die nodige stappe te doen om produksiegroei te herstel, kan die BBP-groei herstel en lewenstandaarde verhoog word.
“Sonder sterk en volgehoue herstel sal Suid-Afrika sy hard verdiende maatskaplike vordering in areas soos opleiding, behuising, welsyn en gesondheidsorg verloor,” sê mnr. Álvaro Pereira, hoofekonoom by OESO.
Volgens Pereira kan Suid-Afrikaners se lewenstandaard verbeter deur openbare finansies te versterk, ’n meer groeivriendelike belastingstelsel te skep, hoër produktiwiteit moontlik te maak deur beter infrastruktuur, opleiding en mededinging, asook meer betroubare kragvoorsiening.