
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die twee streke was winsgewende markte voordat Suid-Afrika in Februarie 2011 sy status as vry van bek-en-klouseer verloor het.
Die land het die moontlikheid van die uitvoer van wildsvleis na China verlede jaar op ’n vergadering daar bespreek, maar volgens Zokwana het die Chinese meer in Suid-Afrika se rooivleisproduksie belanggestel. Chinese amptenare sal Suid-Afrika vandeesmaand besoek om fitosanitêre kwessies met die departement se tegniese komitees te bespreek.
Zokwana sê benewens die EU en Asië word ander markte ook ondersoek. “Hoe meer markte ons vir ons boere kan kry, hoe meer sal boere produseer en hoe meer sal hulle werkgeleenthede skep. “Ons glo deur werkskepping sal dit moontlik wees om van die booshede van werkloosheid te verminder, naamlik misdaad.”
Prof. Edith Vries, direkteur-generaal, het gesê groot vordering is reeds met nuwe markte in die algemeen gemaak. “Daar was ’n groot toename in die handel van landbouprodukte.” Groot vordering is byvoorbeeld gemaak met landbou-uitvoer na Afrika, wat in 2008 11,8% van die totale landbou-uitvoer was, maar teen 2014 tot 29% gestyg het.
Vries sê ’n verbod op handel, soos wat met vleisuitvoer gebeur het nadat Suid-Afrika sy status as vry van bek-en-klouseer verloor het, geld onmiddellik. Daarteenoor kan onderhandelinge om handelsbande weer te herstel jare lank duur. As voorbeeld het sy genoem dat onderhandelinge om mielies na China uit te voer, sewe jaar geduur het.
Boonop stel elke land sy eie vereistes om produkte soontoe te kan uitvoer. Vries sê nadat Suid-Afrika in Februarie verlede jaar sy status as vry van bek-en-klouseer herwin het, het die land se ambassadeurs en landbou-attachés in ander lande hard gewerk aan toegang tot daardie markte.