
Voedselsekerheid is ’n voorvereiste vir ekonomiese groei en werkskepping, en Suid-Afrika sal beter moet presteer as wat tans die geval is. Die Ekonomiese Intelligensie-eenheid het Dinsdag (10 Julie 2012) die Voedselsekerheidindeks bekend gestel, wat bepaal dat die land se voedselsekerheid 40ste is uit 105 lande.
Luidens ’n verklaring van die Demokratiese Alliansie (DA) lê Suid-Afrika in die 13de posisie tussen 28 ander lande met ’n vergelykende gemiddelde inkomste. Dié posisie is ver agter China, Rusland en Mexiko wat die eerste drie plekke in dié opname beklee.
Die DA sê dit is van kernbelang dat Suid-Afrika op dié vlak beter moet presteer. “Jy kan nie ’n honger kind opvoed nie, en jy kan nie hoop vir produktiewe werkers as burgers sonder kos moet oorleef nie.”
Drie voorstelle
Die party hou drie voorstelle aan die staat voor om die land se voedselsekerheid te verbeter. Die eerste is ’n graannasporingsdatabasis. Met behulp van so ’n databasis sal boere, byvoorbeeld, op enige gegewe tyd kan weet watter volume mielies beskikbaar is en aan wie dit behoort. Dit sal lei tot beter beplanning en oormatige uitvoer teen lae pryse, en gevolglike invoer teen hoër pryse, voorkom.
Die party sê hy wag tans op terugvoering van die Landboubemarkingsraad oor so ’n databasis. Die eerste gesprekke het reeds meer as ’n jaar gelede plaasgevind het.
’n Tweede voorstel is dat grond wat tans ingevolge die gemeenskaplike eiendomsreg in die voormalige tuislande is, na ’n individuele titelakte omgeskakel moet word. Meer sekerheid onder grondeienaars, sal volgens die party, na groter algemene voedselsekerheid lei.
“Ten slotte, moet die Regering harder werk om streekswelvaart te verseker. Die Regering moet sterker standpunt inneem teen sy vennote in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap as hulle nie die soort politieke bestendigheid verskaf wat nodig is vir voldoende landbouproduktiwiteit wat tot voedselsekerheid sal lei nie,” aldus die party.