
Nadat die plaaslike wynbedryf groot skade berokken is deur Bitter grapes – Slavery in the vineyards, 'n dokumentêr in 2016, mik die Noorweegse wyn-monopolie, Vinmonopolet, na Suid-Afrika toe om te kyk watter vordering met sosiale kwessies in die bedryf gemaak is.
Die omstrede dokumentêr Bitter grapes – Slavery in the vineyards is deur Tom Heinemann vervaardig, wat in Oktober 2016 in die Nordiese lande die vertoon is.
Volgens mnr. Kristian Hogstad, bestuurder van korporatiewe bestuur by Vinmonopolet, sal die afvaardiging van die Noorweegse wynhandelaar van 27 Februarie tot 3 Maart in die land wees om met vakbonde en bedryfsorganisasies te ontmoet.
'Wynboere wou nie kommentaar lewer'
“Die evaluering van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is nie nuut vir ons nie. Ons doen dit al sedert 2012 in samewerking met die ander Nordiese lande. Bitter Grapes het egter kwessies aan die groot klok gehang waaraan ons graag wil aandag gee. Omdat sommige boere in die dokumentêr nie bereid was om kommentaar te lewer nie, het dit die indruk geskep dat wynboere nie bereid is om saam te werk nie. Ons wil graag hierdie persepsie ook verander en vertroue in die Suid-Afrikaanse wynbedryf herstel,” sê Hogstad.
Volgens mnr. Christo Conradie, bestuurder van VinPro se wynkelderafdeling, is enigiemand welkom om kelders te besoek. “Ons verwag net dat dit op ’n professionele wyse sal geskied, dat afsprake vooraf gemaak en dat met boere en kelders goed gekommunikeer word wat die doel van die besoek is. Met Bitter grapes was dit nie ’n geval dat boere geweier het om met die media te praat nie, hulle was eerder, met rede, baie skepties,” sê Conradie.
Volgens Hogstad kan wynprodusente verwag om vanaf 13 Maart tot 8 April afgevaardigdes van Vinmonopolet te ontvang vir “plaas-ondersoeke”. “Ons nog nie seker of die besoeke aan plase en kelders vooraf bespreekte of onaangekondigde besoeke gaan wees nie, maar ons doel is om seker te maak dat ’n beter ekonomiese toekoms vir almal in die bedryf bestaan.”
* Navrae: Sasha-Monique Elvik per e-pos: Sasha-Monique.Elvik@vinmonopolet.no