
DeMorgenzon, naby Stellenbosch, se DeMorgenzon Reserve Chenin blanc 2016 is onlangs vir die derde jaar agtereenvolgens op die Internasionale Wynuitdaging (IWC) in Londen met die gesogte internasionale Chenin blanc-trofee bekroon.
In die Elgin-omgewing het Paul Cluver-wyne die silwer medalje tydens die Decanter World Wine Awards, ook in Londen, vir die beste Chardonnay ter wêreld ontvang.
Dié eer het sy Seven Flags Chardonnay 2016 te beurt geval. Albei kompetisies word as uiters gesaghebbend beskou.
Beste terroir
Me. Wendy Appelbaum, eienaar van DeMorgenzon, sê die IWC-toekenning wys hoe bestendig hul Chenin blanc is.
“Ek is so trots daarop dat ons dié roemryke eerbewys drie keer agtereenvolgens kon wen. Dit lig ons tot op ’n vlak waar ons as een van die beste Chenin blanc-produsente ter wêreld beskou word.”
Sy sê Stellenbosch het die beste terroir in Suid-Afrika. “Geleë teen die koelste hange en naby die oseaan met sy seebriese, beteken dit ons het die ideale ligging om die beste druiwe te lewer.”
Mnr. Carl van der Merwe, wynmaker en hoofbestuurder by DeMorgenzon, sê danksy die kombinasie van verweerde granietgronde, die invloed van die oggendson en afkoelingseffek van die see, is die plaas ideaal om Chenin blanc én Chardonnay te lewer.
Op die IWC word elke wyn blind geproe en dan beoordeel volgens getrouheid aan die styl, streek en oesjaar. Elke medaljewenner- wyn word op drie afsonderlike geleenthede deur minstens tien verskillende internasionale beoordelaars geproe.
Die landgoed het ook verskeie silwer- en bronsmedaljes op die Decanter World Wine Awards gewen. SA SE
Twee medaljes
Vir die Decanter World Wine Awards moes 219 kundige beoordelaars sowat 17 200 inskrywings proe ten einde te bepaal wie die 34 medaljes vir die beste wyne op die skou huis toe neem.
Paul Cluver-wyne was een van net twee Suid-Afrikaanse wynlandgoedere wat so ’n medalje kon wen. Die ander een was Klein Constantia vir die beste soetwyn met sy Vin de Constance 2013.
“Die hele span van Paul Cluver-wyne verdien die eer. Die medalje wys hul begrip vir ons terroir en die vermoë om by oesjaarveranderinge aan te pas en steeds wyne van uitstekende gehalte te maak,” sê mnr. Paul Cluver, besturende direkteur.
Paul Cluver-wyne het op die IWC ook pryse ingeryg vir Pinot Noir.