‘n Formele versoek vir ‘n moontlike ondersoek na Monsanto deur die Mededingingskommissie kan binnekort ingehandig word, sê die Afrikasentrum vir Bioveiligheid (ASB).
Luidens ‘n berig op Forexpros.com sê me. Miriam Mayet, direkteur van ASB en ‘n omgewingsregsverteenwoordiger, dat hulle tans besig is met ‘n studie na die maatskappy en al sy lisensie-ooreenkomste in Suid-Afrika, veral met betrekking tot mielies en koring.
Die groep sal glo ‘n formele aansoek aan die kommissie voorlê vir ‘n ondersoek en optrede rakende die moontlike ongunstige sosio-ekonomiese impak, sê Mayet.
Mayet sê hulle verwelkom die afkeur van die samesmelting van Pioneer Hi-Bred en Pannar Saad, wat verlede week deur die kommissie aangekondig is. “Dit is net die begin van die stryd vir die beheer van saad in (Suid-Afrika),” aldus Mayet.
Gesentraliseerde beheer
Biowatch, nog ‘n omgewingsgroep, het verlede week in ‘n verklaring gesê hulle is bly die samesmelting is nie goedgekeur nie, aangesien hulle meen dit tot gesentraliseerde beheer van die saadbedryf kan lei.
“Verskeie saadvariëteite wat deur beide Pannar en Pioneer verkoop word bevat gepatenteerde GM-gene wat deur Monsanto gelisensieer is deur vertroulike sake ooreenkomste wat effektief versteekte alliansies en gesentraliseerde beheer van die saadbedryf skep,” lui die verklaring.
Geen dominante aandeel
In antwoord op Biowatch se verklaring sê mnr. Kobus Lindeque, direkteur van Monsanto in Afrika:
“Geen enkele maatskappy het ‘n dominante aandeel in saadverkope in mielies, sojabone en katoen nie. Aandele het oor tyd verander. Onafhanklike saadmaatskappye, waarvan daar honderde is, hou hulle eie en het ‘n aansienlike aandeel in mielies, sojabone en katoen wêreldwyd.”
“Boere het die keuse van verskeie saadmaatskappye – ook in Suid-Afrika – en kan kies van verskeie saadmaatskappye, bastervorme en variëteite. Die keuses sluit saad in met individuele en stapelgeen-biotegnologiese eienskappe - eienskappe wat ontwikkel is deur tradisionele teling en met konvensionele saad .”
“In Suid-Afrika bestaan meer as 496 geregistreerde mielievariëteite van ten minste 24 maatskappye, volgens die Nasionale Variëteitelys.”
“Soos wat verwag kan word in so ‘n diverse mark, wissel die pryse wat boere per sak saad betaal aansienlik – in sommige gevalle tot negevoudig. Boere mag ‘n hoër gehalte saad verkies maar hulle het steeds ‘n groot keuse rakende gehalte- en prysvlakke.”
Die wye lisensiëringstrategieë van Monsanto, en tot ‘n mindere mate ander maatskappye met gepatenteerde eienskappe ,fasiliteer mededinging en gee die boer ‘n groter keuse. Gepatenteerde eienskappe wat deur biotegnologie ontwikkel word is nie net beskikbaar deur die saadmaatskappye wat deur die ontwikkelaars van die eienskap besit word nie. Monsanto, byvoorbeeld, het gekies om ‘n strategie van wye lisensiëring van sy gepatenteerde eienskappe aan groot en kleiner mededingers te volg.”
13 Desember 2010