Opwindende nuwe tegnologiese ontwikkelings wat graanboere se werk sal vergemaklik en opbrengste sal verhoog, wink op die horizon.
Só beloof mnr. Gert Heyns, bemarkingsbestuurder van saad en biotegnologie by Monsanto. Hy het op ’n mediageleentheid buite Pretoria onder meer gepraat oor ’n saadbehandelingsmiddel, Acceleron, wat reeds in Amerika gebruik word om beter beskerming aan saad in die grond te bied.
Die saadbehandeling lei tot ’n beter plantestand, gesonder plante en ’n hoër opbrengs. Hy sê daar word gehoop om Acceleron binne ’n jaar of twee ook in Suid-Afrika bekend te stel.
Nóg ’n nuwe strategie wat reeds in Amerika beproef is en nou in Suid-Afrika getoets word, is die gebruik van Refuge-in-a-bag, ’n saadmengsel wat dit onnodig maak om vir ’n aparte toevlugsgebied voorsiening te maak.
Pleks daarvan om vir ’n toevlugsgebied van 5% voorsiening te maak, word konvensionele saad met presisie-toerusting in die geneties gemodifi seerde (GM) saad ingemeng.
Konvensionele plante wat kan help verseker dat ’n nuwe bevolking wurms sonder weerstand geteel word, word dus tussen dié geplant wat die stronkboorders beheer.
Mnr. Andrew Bennett, bestuurder van tegniese dienste in Afrika by Monsanto, sê omdat Suid-Afrika se stronkboorders van dié in Amerika verskil, is daar baie toetse en regulatoriese prosesse wat nog voltooi moet word voor die produk in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.
5 Januarie 2012