Pioneer en Pannar het geappelleer teen ’n besluit van die Mededingingstribunaal dat Pioneer nie ’n meerderheidsaandeel in Pannar mag bekom nie.
Terwyl Suid-Afrikaanse owerhede dié saketransaksie teëstaan, is dit reeds in Kenia, Malawië, Namibië, Swaziland, Tanzanië en Zambië goedgekeur. Geen amptelike rede is na afloop van die drie weke lange hofsitting vir die tribunaal se afkeuring verskaf nie.
Mnr. Paul E. Schickler, voorsitter van Pioneer, sê dié multinasionale maatskappy se oogmerk is om internasionale oplossings aan die vereistes van ’n spesifieke mark te bied.
"Ons is daartoe verbind om landbouproduktiwiteit in Suid-Afrika en die res van Afrika uit te brei en meen saadprodukte kan vinniger en doeltreffender aan boere verskaf word met die samewerking van Pannar as wat ons of hulle dit afsonderlik sou kon regkry."
Voordeel vir kliënte en werkers?
Mnr. Brian Corbishley, voorsitter van Pannar, sê dié familiebesigheid is reeds meer as 50 jaar lank aan die Suid-Afrikaanse mark verbonde.
"Ons is uiters bewus van die uitdagings vir opkomende boere en meen dié transaksie sal ons kliënte en werkers bevoordeel omdat dit nie net nuwe tegnologie na die land sal bring nie, maar ook omdat dit tot nuwe navorsing sal lei."
Prof. André Jooste, senior landbou-ekonoom by die Nasionale Landboubemarkingsraad, het ’n paar weke gelede gesê ’n opname onder saadmaatskappye het getoon dat geen plaaslike belanghebbende ’n noemenswaardige beswaar teen só ’n samesmelting sou hê nie.
10 November 2011