
Planttyd het op 'n relatief goeie noot in die westelike deel van die somersaaigebied afgeskop, danksy neerslae wat vir die eerste keer in ’n baie lang tyd geval het.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê hoewel daar steeds droë kolle is, het planttyd in die algemeen positief begin omdat daar baie meer grondvog is as ’n jaar gelede. Dr. Dirk Strydom, landbou-ekonoom van die bedryfsorganisasie, beaam dat almal ná die uitmergelende droogte na ’n nuwe seisoen uitsien waarin hopelik weer goeie oeste afgehaal sal kan word.
Gunstige reënvooruitsigte die laaste tyd behoort tot goeie aanplantings by te dra, en as boere by hul voorneme hou om byna ’n derde meer mielies as verlede jaar te plant, kan die nasionale oes weer die 12 miljoen ton-kerf haal. Dis nou mits gemiddelde opbrengste normaal is, sê Strydom.
Afgelope seisoen
Die afgelope seisoen is net 7,54 miljoen ton mielies geproduseer, verreweg die kleinste oes van die afgelope dekade. Kommersiële binnelandse verbruik vir voedsel en veevoer was net onder 10 miljoen ton.
Boere het teen middel Oktober, toe die Nasionale Oesskattingkomitee sy gebruiklike opname oor voornemens om te plant gedoen het, aangedui dat hulle beplan om 27% meer mielies as verlede jaar te plant. Die beoogde witmielie-aanplantings is 43% meer.
Strydom sê hoewel die westelike dele van die somersaaigebied nog nie uitermatig baie reën gekry het nie, lyk weervoorspellings belowend, en is daar nog tyd voordat die planttydperk vir goeie opbrengste verstryk. Hy maan nogtans dat baie water nog in die see moet loop voordat ’n skaflike oes geproduseer kan word.
Die midsomer-droogte
Midsomer, tradisioneel die gevaarlikste stadium van die seisoen vir somersaaiboere, lê nog voor. As die gebruiklike midsomerdroogte vanjaar weer hard slaan, het bitter min boere soos in ander jare ’n buffer van opgegaarde grondvog om op terug te val.
Die meeste klimaatvooruitskou-modelle voorspel in dié stadium naby-normale reënval in Desember en Januarie. De Villiers het intussen ook die moontlikheid van ’n nasionale oorskot mielie-oes geopper.
Graan SA raam dat rondom 85% van die mielie-hektare in Mpumalanga reeds geplant is. Dié provinsie het vanjaar 30% van die nasionale oes geproduseer, en die vorige jaar sowat ’n kwart.
Tydige bemarking
As die weer sou saamspeel, gaan boere se groot uitdaging waarskynlik hierdie jaar tydige bemarking van hul graan wees. Beter oeste en gunstige weervooruitsigte sal druk op produsentepryse plaas.
Pryse het reeds betekenisvol geretireer vanaf begin vanjaar se rekordhoë-vlakke. Die Safex-witmielieprys het byvoorbeeld vanaf 20 Januarie se hoogtepunt van R5 280/ton tot R3 490/ton op 10 November teruggeval.
Sedertdien het dié prys wel danksy verswakking van die rand in ’n redelike lopie versterk, tot oor die R4 000/ton.