Die vier mans wat daarvan verdink word dat hulle met AgriSEB-geld gekonkel het, is op borgtog van R40 000 elk vrygelaat, sê mnr. Mthunzi Maga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.
Die mans is almal aangekla op vyf klagte van bedrog en vyf klagte van geldwassery. Dié beweerde misdrywe het glo van Oktober 2007 tot Januarie 2008 plaasgevind, sê Maga.
Die verdagtes is mnre. Dan Mofokeng (voormalige LUR van Behuising in Gauteng), Phil Mohlahlane (voormalige waarnemende hoof van die Land Bank), Khutso Mosoma (voormalige bestuurder van die Land Bank se AgriSEB-fonds) en Matuba Mapanye (’n prokureur van Polokwane).
Maga sê dié saak is ’n gemeenskaplike anti-korrupsiesaak wat gesamentlik deur verskeie regeringsdepartemente ondersoek is. “Die Regering probeer daarmee bewys dat ons ernstig is oor die uitroei van korrupsie.”
Van dié betrokke departemente sluit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Polisie se Valke-eenheid in.
Maga sê hy is nie bewus daarvan dat ’n voormalige Landbou-minister moontlik in die ondersoeke geïmpliseer is nie. “Omdat die saak steeds ondersoek word, is dit moontlik dat nog verdagtes aangekeer kan word,” sê Maga.
Die saak is tot 3 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.
3 Maart 2011