
Dit is weer tyd vir mens en dier om saam stang vas te byt in die moordende Fauresmith-uithourit oor 200 km op die rug van ’n perd.
Dit is hoe ruiters van Suid-Afrika, Namibië en Lesotho op die 41ste perde-uithourit op dié Suid-Vrystaatse dorp sake gaan uitspook. Dié jaarlikse uithourit vind weer van 1 tot 3 Julie hier plaas.
Me. Charmaine Nickisson, hoofbestuurder van die Uithourit-vereniging van Suid-Afrika (Erasa), op wie se skouers die taak van koördineerder vanjaar geval het, sê tot dusver is 404 inskrywings vir die byeenkoms aanvaar. Benewens die ses inskrywings uit Lesotho en vyf uit Namibië, word daar ook ses deelnemers uit Amerika, drie uit Tsjeggië en een uit Brittanje verwag.
Dit lyk asof baie koue toestande die rit vanjaar weer eens gaan kenmerk. Die afgelope jaar of wat is minder ysige toestande op die rit beleef. Volgens Nickisson is minimum-temperature van tot 6 grade onder die vriespunt, wat met ysreën gepaard gegaan het, vandeesweek op Fauresmith ondervind.
Die eerste dag van die rit oor drie dae strek oor 74?km. Elke 23?km word daar eers vir ’n veeartsinspeksie op sentrale punte buite die dorp tyd verwyl. “Die bane is baie moeilik. Dit gaan oor heuwels, tussendeur klowe en oor koppies en klippe,” sê Nickisson.
Op dag twee van die roete, ook oor 74 km, kan die deelnemertal maklik met sowat 40 verminder omdat die perde nie die veearts-inspeksie geslaag het nie óf hul ruiters het hulle onttrek. Op dag drie kan maklik 100 ruiters minder as op die eerste dag wegspring op ’n roete slegs oor 52?km.
Die hoogtepunt vir deelnemers is gewoonlik wanneer die liedjie Chariots of Fire oor die skouterrein weerklink elke keer as ’n suksesvolle ruiter oor die eindstreep galop. Die skare bulder en juig die ruiters en perde staande toe. Trane van blydskap en verligting vloei ook dan vrylik.