
Aartappelboere in die Sandveld behoort beter saam te werk, nie net om omgewingshulpbronne meer suksesvol aan te wend nie, maar ook ter wille van finansiële oorlewing.
Mnr. Jan van Zyl, voorsitter van die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie (Sako) het tydens die organisasie se jaarvergadering op Lambertsbaai gesê altesame 7205 ha aartappels is in die vorige seisoen in die streek geplant, waarvan meer as 33 miljoen sakkies aartappels vir die vars mark geproduseer is. Sowat 20% van die Sandveldse aartappelproduksie gaan na die verwerkingsmark.
“Ons is geleë in 'n reënvalstreek waar ons 12 maande van die jaar aartappels kan produseer. Ons sandgrond is arm, maar dit produseer ’n uitstekende produk. Die voordele wat ons in die Sandveld geniet, kom egter nie sonder uitdagings nie. Aartappelvirusse en hoë insetkostes is twee van die grootste struikelblokke waarmee ons stoei.”
Virus skep probleme
Volgens Van Zyl was daar die afgelope jaar die hoogste voorkoms van virus nog in die Sandveld. Dit lei daartoe dat al hoe minder moere in die streek verbou word.
“Hoe ons virusse bestuur, sal ons toekoms bepaal. Om die geleenthede te ontgin, moet ons mooi dink oor hoe ons ons mede-produsente sien – as vennote, kompetisie of die vyand? As ons vennote is, sal ons moet saamwerk om die markte te bestuur, maar nie te manipuleer nie. Te min produkte is ook negatief. Ons moet streef na volhoubaarheid, en gesonde kompetisie is goed.”
Prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing by die Universiteit Stellenbosch, het die druk op waterbronne en biodiversiteit in die Sandveld as ander omgewingswerklikhede uitgewys. Hy meen dis noodsaaklik dat boere saamwerk in ’n situasie soos hierdie waar winsmarges en hulpbronne onder druk is.
Moet uitbrei
“Jy moet uitbrei of nuwe, duur werktuie aanskaf of jy moet begin dink aan die waardeketting. Jy kan nog waarde ontsluit deur die waardeketting beter te bestuur, maar dit beteken ook samewerking.”
Vertikale integrasie is ’n ekstreme vorm van koördinasie. ’n Ander opsie is om horisontaal saam te werk.
“Ons moet saam pak, saam vervoer of saam bemark. Só bou ons vertroue en ruil inligting en kry bedingingsmag. Waarde moet beskerm word deur samewerking.”
Voordeel van die omgewing
Volgens Kirsten is daar ook ’n behoefte om produksiestelsels aan te pas en om te swaai na lae insetkoste-produksie. Nie net is dit kostebesparend nie, maar ook tot voordeel van die omgewing.
“Wins en volhoubaarheid kan verbeter word deur samewerking, maar dis moeilik – amper teen ons aard en wese. Vermy konflik en apatie, want dis aspekte wat enige samewerkings en saamstaan kan kelder.”