
Suid-Afrika het in 2015/’16 die ergste droogte nóg beleef, met 'n oes van 3,4 miljoen ton wit mielies. Dit is opgevolg deur die huidige seisoen met 'n geskatte witmielie-produksie van 8,4 miljoen ton (147% meer).
Suid-Afrika produseer gemiddeld meer as genoeg wit mielies om aan die plaaslike behoeftes te voorsien, hoewel dit in sekere jare te min mag wees.
Een van die gevolge van die 2015/’16-droogte was dat die prys van mieliemeel, Suid-Afrika se stapelvoedsel, binne vyf maande met ongeveer 40% gestyg het. Is dit nie dalk een van die onderliggende oorsake vir die voortdurende burgerlike ongehoorsaamheid en ongelukkigheid nie, hoewel die amptelike rede gewoonlik swak dienslewering is?
Bron van kommer
Ho? kospryse (met droogte as hoofoorsaak) is dus 'n bron van kommer vir die Regering. 'n Moontlike oplossing hiervoor kan wees om wit mielies van 'n surplus jaar op te berg en dan weer in 'n tekort-jaar vry te stel. Die Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, het onlangs, na aanleiding van 'n vraag, gesê dat die Regering daaraan dink om 'n stelsel waarvolgens 'n strategiese graanreserwe gehou word, in te stel.
Die idee van strategiese graanvoorrade is nie nuut nie. Die destydse Mielieraad het 'n sogenaamde “Josefsbeleid” gehad waarvolgens 'n sekere hoeveelheid mielies as reserwe gehou is om die impak van ‘n moontlike droogte te verlig. In teorie is dit 'n goeie idee, maar wat is die koste daarvan?
Die aankoop van net 500 000 ton wit mielies vir 'n strategiese voorraad kan tussen 5% en 10% van die Regering se begroting vir landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming beloop.
Kan staat deel van aanbod beheer?
Witmieliepryse word tans volgens die geskatte toekomstige vraag en aanbod daarvan bepaal. Kan die huidige stelsel steeds werk as 'n belangrike deel van die aanbod deur die staat beheer word? Dit is belangrik om te onthou dat vandag se pryse bepaal word volgens die verwagte vraag na wit mielies.
Byvoorbeeld: 'n Produsent neem 'n ingeligte besluit (volgens beskikbare inligting) dat daar 'n tekort aan wit mielies gaan wees. Die Regering sal dus strategiese voorrade vrystel wat die tekort sal uitbalanseer. Hy kontrakteer gevolglik sy mielies in Februarie, want dit lyk asof pryse eerder vorentoe sal daal.
Die staat besluit dat die verwagte tekort nie so ernstig is dat strategiese voorrade vrygestel moet word nie. Pryse is teen oestyd heelwat beter as in Februarie en die produsent het alweer 'n verkeerde besluit geneem. Afgesien van onsekerhede soos die wisselkoers, internasionale pryse en wat die uiteindelike oes gaan wees, is daar nou nóg 'n onbekende faktor: Die staat se voorraad. Hierdie voorraad kan bepaal of daar baie of min wit mielies aan die einde van 'n mieliejaar gaan wees, wat 'n bepalende invloed op pryse het.
Hoe aangekoop?
Op watter manier gaan die strategiese voorrade aangekoop en verkoop word? Sal dit deur middel van die JSE (Safex) gedoen word? Wat sal die korttermyn-invloed op pryse wees wanneer sodanige aankope en verkope gedoen word? Hierdie faktore kan seker deur middel van re?ls aangespreek word, maar het 'n reuse potensiaal vir mark manipulasie en/of korrupsie.
Die huidige konsternasie ten opsigte van strategiese olievoorrade is 'n sprekende voorbeeld van so 'n stelsel se tekortkominge. Die nuwe minister in beheer sê Suid-Afrika se voorrade is verlede jaar verkoop, terwyl haar voorganger volgehou het dat die strategiese reserwes net geroteer is. Dink net aan die chaos op die mieliemark as markdeelnemers die staat se strategiese witmielie voorraad tydens 'n tekortjaar by vraag en aanbod berekeninge insluit, maar dit bestaan nie meer nie. Of nog erger, een of twee persone weet dit, terwyl die res van die mark nie bewus is daarvan nie.
In plaas van meer sekerheid (wat die hoofdoel van strategiese witmielie voorrade moet wees), lyk dit of so 'n stelsel eerder meer onsekerheid tot gevolg sal hê. Safex en strategiese mielievoorrade is onderling uitsluitende begrippe.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities