
Daar was sedert Desember verlede
jaar vir ’n tyd sprake van ’n lig aan die einde van die tonnel wat agterstande
by Kaapstad-hawe betref, maar die situasie by die hawe bly benard, sê mnr.
Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte by Hortgro. Aangesien
steenvrugte ’n goeie oes gelewer het en ’n uitstekende oes vir kernvrugte
verwag word, is dit volgens hom tragies.
Du Preez sê die logistieke ketting het die vrugtebedryf in die steek gelaat en dat die sagtevrugtebedryf hard daardeur getref sal word, veral pruimprodusente wat groot finansiële verliese gely het weens uitgerekte verskepingskettings en die impak daarvan op die gehalte van die pruime, asook hul wins.
“Daar is voortslepende probleme ten opsigte van wêreldwye verskeping en logistiek. Ander lande wat ook vrugte uitvoer, ervaar dieselfde probleme,” sê Du Preez. “Bottelnekke en tekorte aan vraghouers is by feitlik alle hawens ’n werklikheid wat deur die oorlog in Oekraïne vererger word. Die voortslepende probleme by ons hawens, spesifiek Kaapstad-hawe, is egter die enkel grootste bedreiging vir ons bedryf.”
Voorkombare probleme met arbeid en doeltreffendheid gedurende Desember, asook kragonderbrekings, tesame met gebrekkige toerusting en vertragings weens wind en mis het in 2022 voortgeduur.
Du Preez sê ten spyte van Transnet se bestuur se beste pogings is agterstande en vertragings steeds nie uit die weg geruim nie. “Toerusting en die betroubaarheid daarvan bly die grootste probleem en geniet nie die nodige aandag nie. Wind, mis en ander vertragings vererger die probleme. Selfs die oorverhitting van toerusting gedurende Februarie se hittegolwe het vertragings veroorsaak.”
Dié probleme het gelei tot onaanvaarbare vertragings in vasmering, skepe wat Kaapstad-hawe verbysteek, en vrugte van twyfelagtige gehalte wat in uitvoermarkte aankom. “Hierdie vertragings dwing uitvoerders om hul vrugte padlangs na die hawens in die Oos-Kaap en Durban te neem teen ’n groot bykomende koste.”
Openbare-private-vennootskappe
Transnet en ander belanghebbendes vergader volgens hom steeds elke week. Intussen vind vergaderings ook met senior Transnet-beamptes plaas om die stigting van openbare-private-vennootskappe uit te pluis ten einde die rol van die verhuurder (Transnet-hawe-owerheid) en hawe-operateur (Transnet-haweterminale) te skei. “Ons vertrou dat die toegespitste benadering tot Kaapstad-hawe sal help om ’n oplossing op ’n nasionale vlak te vind wat ook die ander groot hawens sal insluit.”
Die werklikheid is egter dat die situasie vir die volgende jaar of twee uiters moeilik sal bly. Die skuif van sommige hyskrane vanaf Coega- na Kaapstad-hawe en die verwagte verandering ten opsigte van die onderhoud en herstel van gebreekte toerusting sal volgens Du Preez produktiwiteit aansienlik in die 2022-’23-seisoen verbeter.
“Een van ons grootste kwessies is hoe om hierdie komplekse, veelkantige probleem, asook wat daaraan gedoen word, aan ons produsente te verduidelik. Ons verstaan ons produsente se frustrasie en die impak op hul winsgewendheid, maar daar is net soveel wat gedoen kan word.”
Benewens weeklikse vergaderings het Hortgro tesame met die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati) en die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF) ’n konsultant aangestel om as sentrale kontakpersoon vir Kaapstad-hawe op te tree om kommunikasie meer vaartbelyn te maak en te verseker dat gebruikers van die hawe ’n verenigde front vorm om probleme aan te pak.
Op kort en mediumtermyn sal gekonsentreer word op die aankoop en onderhoud van toerusting, asook die wetgewing wat die verhoudings, verantwoordelikhede en aanspreeklikheid van die verhuurder en operateur bepaal.