
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê Agbiz en die Nywerheidontwikkelingskorporasie se indeks vir landboubesigheidsvertroue het met 7 punte tot 53 gedaal.
“Hoër insetkoste, wrywing in sommige uitvoermarkte, volgehoue dieresiekteprobleme, stygende rentekoerse, hewiger geopolitieke risiko’s wat aanbodkettings ontwrig het, en voortgesette swakhede in munisipale dienslewering en netwerkbedrywe bly die sleutelfaktore wat respondente as hul belangrikste bekommernisse genoem het,” sê hy.
Desondanks dui die algemene punt bó 50 steeds op versigtige optimisme oor bedryfstoestande in Suid-ASfrika. Die opname is in die eerste twee weke van September landwyd by landbousake-ondernemings in alle landbousubsektore gedoen.
Die grootste daling was in die subindeks rakende algemene ekonomiese toestande, waar vertroue met 19 punte tot 24 geval het. Sihlobo sê dit weerspieël onsekerhede weens onlangse geopolitieke spanning, inflasiekommer, stygende rentekoerse, ’n algemene verlangsaming in die wêreldekonomie en plaaslike kwessies soos aanhoudende beurtkrag en ondoeltreffendhede in netwerkbedrywe.
Vertroue in algemene landboutoestande het met 11 punte tot 42 gedaal, wat volgens Sihlobo die laagste vlak sedert die laaste kwartaal van 2019 is. Landboubesighede betrokke by grane, finansiering en landbouchemikalieë was van die respondente met ’n pessimistiese siening. Hy verwag dit kan in komende kwartale verander omdat die weervooruitsigte op ’n swak La Niña-stelsel dui, wat matige reën in die 2022-’23-somerseisoen kan bring.
Intussen trek baie boere en landbousake-ondernemings klaarblyklik steeds voordeel uit sterk gewaspryse. Hoewel die subindeks rakende omset met 14 punte gedaal het, staan dit op 79, wat steeds baie hoër as die langtermyngemiddelde is.
Sihlobo sê boere verhoog hul belegging in roerende bates ná twee goeie seisoene met groot oeste en hoër pryse, spesifiek vir grane en oliesade. Die indeks vir kapitaalbelegging het met 2 punte tot 71 gedaal, maar dit is steeds hoër as die langtermynneiging.
Ondanks probleme met uitvoer rakende onder meer sitrus na die Europese Unie, wol na China en rooivleis na sekere markte, het die subindeks rakende volume uitvoer met slegs 1 punt tot 70 gedaal, wat dui op gesonde uitvoertoestande.
Ten opsigte van voorsiening vir swak skuld het die betrokke subindeks tot 39 gedaal, wat op gunstige toestande dui, maar die subindeks vir finansieringskoste het met 7 punte tot 11 gestyg. Sihlobo sê dit is steeds laag, maar weerspieël die stygende rentekoersomgewing.