Sakevertroue in die landbou is op sy hoogste vlak in drie jaar, sê die Landboubesigheidskamer (LBK) en die IDC (voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie).
Luidens ’n verklaring het die vertroue-indeks op 62 basispunte in die eerste kwartaal van vanjaar te staan gekom. Dit is 13% hoër as dié van die vierde kwartaal van verlede jaar en 43% hoër is as die eerste kwartaal van verlede jaar.
Dié gunstige syfer word grootliks toegeskryf aan hoër kommoditeitspryse, ’n toename in die internasionale vraag, die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie ná die resessie en ’n relatiewe verbetering in landboutoestande in vergelyking met verlede jaar.
Die staat se aanduiding dat hy met die kommersiële landbou wil saamwerk en die Regering se nuwe groeiplan kan ook bydraende faktore tot die goeie sentiment wees.
Die koste van kapitaal, infrastruktuur en dienslewering asook die vloede en droogtes wat in sekere dele voorgekom het, benadeel egter die bedryf. Die LBK sê hoewel die herstel in die indeks optimisties is, is die bedryf steeds versigtig ná veral die resessie.
Die vergelyking van die eerste kwartaal van verlede jaar se omset en netto bedryfsinkomste met dié kwartaal s’n, wys ’n aansienlike verhoging is aangeteken.
Op die kort termyn, wanneer die vierde kwartaal van verlede jaar se syfers met dié van die eerste kwartaal van vanjaar vergelyk word, is die inkomste laer en het die omset slegs effens toegeneem. Die moontlikheid vir ’n toename in werksgeleenthede is hoër as verlede jaar, maar weens die druk op inkomste word dié neiging nie binnekort verwag nie.
Uitvoervolumes het toegeneem, hoofsaaklik weens ’n toename in die internasionale vraag omdat die wêreldekonomie herstel en daar lae internasionale voedselvoorrade is.
Volgens die indeks is dit steeds moeilik om krediet aan te gaan, veral weens die feit dat boere tans nie in staat is om lenings tydig terug te betaal nie. ’n Daling word wel in die eerste kwartaal van vanjaar verwag weens “slegte skuld”.
22 Maart 2011