
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê in hierdie stadium lyk dit meer waarskynlik dat die rentekoers met 50 basispunte verhoog sal word wanneer die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee (MBK) op 21 Julie vergader.
Volgens hom is inflasionêre verwagtinge die grootste dryfveer agter die verhoging. “Die MBK wil inflasie tussen 3% en 6% hou. Ongelukkig word plaaslike inflasie deur eksterne faktore gedryf, soos hoër brandstofpryse weens hoër oliepryse en hoër voedselpryse weens die internasionale prysstygings van voedsel.
“Die Reserwebank moet ook die wisselkoers ‘beskerm’ en daarom moet die rentekoers in pas met internasionale rentekoerse wees. Indien die Amerikaanse rentekoers styg, sal ons s’n ook moet styg om positiewe marges te verseker vir beleggers om in Suid-Afrika belê.”
Die verhoging sal volgens hom ’n ongunstige impak op die landbousektor hê aangesien dit ook insetkoste, soos die koste van brandstof, kunsmis en chemikalieë, sal verhoog.
“Hoewel landbouskuld oor die algemeen binne normale perke is, sal die rentekoers op hoë skuld by landboubesighede ’n demper op hul winsgewendheid plaas. As prysnemers het boere nie maniere om van hierdie tipe kostestygings te herstel nie.”
Hy sê kerninflasie is nog onder beheer. Die verlenging van die verligting op die algemene brandstofheffing kan die impak van inflasie versag, maar kan ander probleme in die toekoms skep.