’n Gesprek behoort binnekort tussen die staat en die Rooivleisbedryfsforum oor bek-en-klouseer en verskeie ander kwessies plaas te vind.
Luidens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jongste nuusbrief het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gereageer op stellings wat teen hom gemaak is.
Deel van dié stellings was dat die departement misluk om te verseker dat die land sy internasionale bek-en-klouseer-vrye status herwin. Die forum het dit duidelik gemaak dat hy al verskeie kere onsuksesvol gepoog het om met die departement en me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, oor hulle bekommernisse te vergader.
Verder is die forum ook bekommerd oor die implementering van die Vleisveiligheidswet en die Dieregesondheidswet, en die minister en die departement se onvermoë om ’n bestendige beleidsraamwerk vir die bedryf te verskaf.
KwaZulu-Natal
Volgens die departement kan die proses om die land se bek-en-klouseer-vrye status te herwin eers begin wanneer die nodige waarneming oor moontlike gebiede van besmetting gedoen is. Dié waarneming kan nie tans plaasvind nie, want KwaZulu-Natal kan nie verseker dat al die nodige maatreëls ingestel is nie.
Die departement werk glo baie nou met die provinsie saam om bestrydingsmaatreëls in te stel sodat die waarneming kan plaasvind. Die proses gaan ongelukkig langer duur as wat verwag is, omdat dít deur internasionale protokol aangevuur word.
Die forum verwag om binnekort met die departement te vergader om dié kwessies, asook kwessies wat die Federasie vir die Suid-Afrikaanse Rooivleisprodusente aan hom voorgelê het, te bespreek.
Bron: RPO Nuusbrief
7 Desember 2011