Die Wes-Kaap se belangrikste aartappelproduksiestreek, die Sandveld, het verlede jaar teen ’n astronomiese verlies van R105, 3 miljoen geboer.
Aartappelboere van die Sandveld se gelykspeelprys was R28, 52 per 10 kg sakkie, maar die gemiddelde prys wat boere in die sak gesteek het, was net sowat R25, 09. Dit is ’n verlies van R3,43 per sakkie.
Mnr. Joos Engelbrecht, voorsitter van die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie (Sako), het Dinsdag in sy voorsittersrede op die organisasie se jaarvergadering op Velddrif gesê die streek het verlede jaar altesame 20 694 945 sakkies aartappels (10kg) geproduseer.
“Dus ’n astronomiese verlies van R105, 3 miljoen verlede jaar,” sê Engelbrecht.
Hy het boere gevra om oor hierdie syfers te besin voor beplanning vir vanjaar en vorentoe gedoen word.
“Die pryse wat ons behaal, is onder ons produksiekoste. Ons is nog nie op die pad waar ons graag wil wees nie, maar vir my is daar stadig ’n verandering. Ons boere boer skerper en meer produktief. Hulle is genoodsaak om dit te doen,” sê Engelbrecht.
Swakker produkte
Die Kaapstadse Varsproduktemark het verlede jaar byna 460 000 sakkies (10 kg) na laer graderings afgemerk. Die grootste rede daarvoor was bederf weens bruinskurf en aalwurm.
“Ons produseer ’n puik produk in ons streek. Daar word egter die afgelope tyd in die warm somermaande ’n swak produk mark toe gestuur. Nie net benadeel dit ons pryse nie, maar dit skep ook ’n swak beeld.”
Hy het boere dit op die hart gedruk om bemarkingskanale beter te benut. Die Sandveld produseer 12 maande van die jaar aartappels.
“Dit is belangrik om te weet watter maande van die jaar die vraag na aartappels meer of minder is,” meen Engelbrecht. Die Sandveldse boere het in Junie R33,13 per sakkie verdien, terwyl die prys in Januarie net R15,10 per sakkie was.
Hy meen boere moet hul produksiebeplanning op ’n maandelikse grondslag beter bestuur. Dieselfde geld weeklikse bemarkingsbeplanning. Boere moet ook hul markte – veral die uitvoermarkte – beskerm en ’n produk van ’n goeie gehalte lewer as hulle pryse wil opstoot.
17 April 2012