
Altesaam 50 001 ton geelmielies is einde Augustus na Saoedi-Arabië verskeep, berig die SA Graaninligtingdiens in sy jongste weeklikse in- en uitvoerverslag.
Dié nuus kom as ’n ligpunt te midde van swaar druk op mieliepryse vanweë die naasgrootste nasionale oes nog en ’n oorskot-geelmielie-oes wat byna 406 000 ton groter as verlede jaar s’n is.
Die uitvoer na Saoedi-Arabië is die resultaat van werk wat Graan SA die laaste tyd gedoen het as deel van sy uitvoerstrategie om nuwe markte te ontwikkel. Nadat die Midde-Ooste as ’n potensiële mark geïdentifiseer is, het mnr. Wessel Lemmer, Graan SA-ekonoom, die gebied met die oog hierop einde verlede jaar besoek.
“Dié streek is ’n merkwaardige verbruiker van mielies, en Suid-Afrika behoort as uitvoerder ’n liggingsvoordeel na dié gebied te hê,” sê Lemmer.
Graan SA het die lede van die SA Graanverhandelaarsvereniging (Sacota) met die uitvoerpoging na Saoedi-Arabië gelukgewens.
“Ons vertrou dat dit nie die laaste besending na die Midde-Ooste gaan wees nie,” sê Lemmer.