Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is reeds ‘n vrye handelsone, sê prof. Mohammad Karaan, lid van die Regering se Nasionale Beplanningskomitee.
“Buiten ‘n paspoort is daar maar min wat ons (Suid-Afrika) van ons buurstate skei. Al hoe meer kapitaal vloei uit Suid-Afrika na die res van die SAOG, terwyl werkers weer van daar af migreer,” sê hy. Altesaam 11 van die SAOG se 14 lande wil teen 2012 van alle invoertariewe tussen dié lande ontslae wees en teen 2018 word ‘n gemeenskaplike geldeenheid beplan.
“Daar is steeds kwessies, soos biosekuriteit, wat aandag moet geniet, maar handel vind reeds vrylik plaas.”
Karaan sê dit is interessant dat die riviere wat SAOG-lande tans skei, juis die bindende faktor kan wees. “Handelspatrone draai rondom water en dit is wat ons moet gebruik om ons te verbind.”
As voorbeeld sê Karaan dat ‘n kwart van SAOG se water in Zambië voorkom. “Ons moet uitvind hoe dit (water) vir wedersyds voordelige ontwikkeling ingespan kan word.” Hy meen dat voedselsekerheid nie binne Suid-Afrika lê nie, maar eerder binne ‘n SAOG-benadering te vinde is.
11 Oktober 2010