
Te midde van 'n landwye uitbreking van voëlgriep - waarskynlik die plaaslike pluimveebedryf se grootste krisis nóg - het die land se grootste pluimveeprodusent uit die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) bedank.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, sê dit was 'n moeilike besluit, maar die probleme in die SAPV kom al jare aan. Ná Astral se bedanking einde Julie het mnr. Kevin Lovell, jarelange uitvoerende hoof van die SAPV, in Augustus bedank.
Die genoteerde maatskappy se bedanking beteken die SAPV verloor 'n groot inkomste, omdat lidmaatskapgelde volgens ondernemings se grootte bepaal word.
Volgens Schutte is dit belangrik dat 'n bedryf 'n verteenwoordigende liggaam het, onder meer om met die Regering te praat, maar die SAPV is oor jare afgetakel omdat 'n hele paar van die grootste produsente nie lede is nie, sommige groot lede nie ledegeld betaal nie, sommige lede hul kommersiële strategieë op ander wil afdwing, en persoonlike vetes binne die SAPV op die spits gedryf word.
Gereelde probleme
Die organisasie het volgens Schutte gereeld finansierings- en kontantvloeiprobleme gehad. Talle lede “het gekom en gegaan soos hulle wil en dit hulle pas”.
“Astral het probeer om 'n samesnoerende verhouding met almal te kweek en om meer lede te werf.” Die situasie het egter só versleg dat Astral uiteindelik volgens Schutte meer as 50% van die SAPV se koste moes dra. “Een kwartaal het ons tot R10 miljoen betaal om die SAPV aan die lewe te hou.”
Schutte sê Astral dra ook die meeste tot die FairPlay-teenstortingsbeweging by, “tot almal se voordeel, ander trek net hul skouers op.” Benewens die geld wat Astral aan die SAPV gegee het, het hy ook menslike hulpbronne beskikbaar gestel, en was Schutte self ook nou betrokke.
“Ek het meer tyd aan die SAPV bestee – in die Parlement, by die Departement van Handel en Nywerheid, by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, by FairPlay, by noodvergaderings, met unies om hulle saam met ons te kry – as wat ek in my eie kantoor bestee het. Die res van die bedryf ry doodeenvoudig op ons rug.”
In 'n klaarblyklik verwysing na Lovell, sê Schutte die gedrag van die SAPV-bestuur het nie samehorigheid in die bedryf bevorder nie en dat daar lede was wat baie ongelukkig was met senior bestuurslede.
Een van die kwessies wat Schutte baie omgekrap het, is dat die SAPV oor vraag en aanbod in prys in die media gepraat het, wat volgens Schutte nie met die Mededingingswet strook nie. “Oor enigiets wat 'n invloed op prys het, mag daar nie gepraat word nie.”
Voëlgriep
Schutte sê met dié dat soveel van die groot produsente nie SAPV-lede is nie, is die organisasie nie meer verteenwoordigend van die bedryf nie.
“As daar nie minstens 80% tot 90% van die bedryf is wat deelneem nie, sit jy met 'n probleem.” Schutte sê die voëlgriepkrisis “is net weer 'n bewys dat georganiseerde pluimvee nie kan saamwerk nie."
“Elke ou kom met sy eie strategie, niemand kyk na die groter belang van die land nie, na inenting om ons teeltroppe te beskerm nie. Elke ou kyk net na homself. Ons gaan probeer om die virus uit te wis deur hoenders dood te maak...tot daar geen hoenders meer oor is nie.
“Tot vandag is al 48 gevalle aangemeld, en seker nóg soveel is nié aangemeld nie. Ons het klaar endemiese toestande bereik. Ek kan nie bekostig dat die SAPV, wat nie verteenwoordigend van die bedryf is nie, namens Astral oor voëlgriep praat nie.”