
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se 15%-pekelperk vir hoenderstukke sal vanaf 22 Oktober geld.
Regter Hans Fabricius van die Hooggeregshof in Pretoria het (op 21 September) 'n aansoek deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) dat nuwe regulasies hieroor tersyde gestel en hersien word, met koste van die hand gewys.
Fabricius het ook die SAPV se aansoek om agt weke grasie ná die hofbevel, van die hand gewys.
Die regter sê in sy uitspraak in die sowat 4 000 bladsye dokumente wat vir die saak ingedien is, word onder meer verwys na 19 vergaderings met alle moontlike belanghebbers asook 52 briewe en e-posse oor die kwessie.
Billike proses is gevolg
“ 'n Holistiese siening van die vyf jaar lange raadplegingsproses lei my tot die slotsom dat 'n billike proses gevolg is.”
Fabricius verwys na die uitspraak oor Pretoria-straatname vroeër vanjaar, waarvolgens openbare deelname “nie verhef behoort te word tot mede-regering of gelyke verdeling van uitvoerende begrotingsverantwoordelikhede nie”.
Hy sê verder: “Die betrokke minister hoef nie duisende bladsye wat hy van die openbare publiek ontvang, te lees en daarop te reageer nie.” Amptenare moet die kommentaar oorweeg en aan die minister daaroor verslag doen.
Fabricius sê die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) vereis 'n billike proses, nie 'n perfekte een nie.
Optimale pekelvlak
Fabricius sê die Wet op Landbouprodukstandaarde is duidelik daarop gemik om verbruikers teen oormatige toevoeging van pekelwater te beskerm.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, was verder daarop geregtig om die 15%-perk as 'n kompromis te bepaal, nadat hy die sienings van minstens 20 belanghebbendes oorweeg het.
Fabricius sê die hoenderbedryf moet besef 'n 25%-perk gaan net so moeilik reguleerbaar wees as 'n 15%-perk.
Hy sê ook kragtens wetgewing hoef daar geen absoluut korrekte wetenskaplike grondslag vir pekelperke te wees nie. Duidelike inligting op verpakking sal nie noodwendig help nie, omdat baie Suid-Afrikaners ongeletterd is.
SAPV is teleurgesteld
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SAPV, het in reaksie op die uitspraak gesê die vereniging is baie teleurgesteld. “Ons besef invoerders gaan baie bly wees, want invoer gaan nou weer opskiet en werkgeleenthede sal verlore gaan.
“Ons regspan bestudeer die uitspraak om te bepaal watter gronde van appèl daar is.”
Die SAPV wag nog dat 'n pas aangestelde departementele appèlpaneel besluit of hoender wat teen 22 Oktober reeds geproduseer is, teen hoër pekelvlakke, nog verkoop mag word. Die paneel moet besluit of die datum van inwerkingtreding van die regulasies die produksie- of verkoopdatum van hoender is.