Sarie Marais het verlede week agter die eertydse ystergordyn ingekruip toe ‘n groep Suid-Afrikaanse boere die bekende liedjie vir hulle teenstanders na ‘n rugbywedstryd op die internasionale rugbystadion in Tbilisi, hoofstad van Georgië, gesing het.
Die geskiedkundige rugbywedstryd het plaasgevind tussen ‘n veterane-span van Georgië en ‘n groep boere onder leiding van die TLU SA wat tans dié land besoek om landbou-omstandighede te ondersoek.
Nadat ‘n Suid-Afrikaanse boer oor rugby begin praat het, het Georgië se minister van sport die geskiedkundige wedstryd gereël. By die onthaal na afloop van die wedstryd (wat Suid-Afrika met net 20 – 5 verloor het) het die Suid-Afrikaners hul fikse opponente ore aangesit deur Sarie Marais die hardste te sing.
Onder die teenstanders was die oud-afrigter van Skotland, mnr. Ritchie Dickson.
Nie net rugby nie
Die Suid-Afrikaanse afvaardiging het egter nie net rugby gespeel nie. Vroeër die dag was daar ontmoetings met die Georgiese ministeries van landbou en van finansies.
Mnr. Irakli Matkava, direkteur van Georgië se nasionale beleggingsagentskap, het gesê daar was ‘n daadwerklike poging om prosedures te oorvereenvoudig ten einde beleggings te lok om plaaslike produksie aan te moedig.
Soveel as 70% tot 80% van die kos wat in die land geëet word, word ingevoer en daar is geen goeie rede daarvoor nie. Mnr. Bakur Kvezereli, minister van landbou, het gesê die sektor is die mees tradisionele sektor in die land. Georgië beteken "die land van die mense wat op die grond werk".
Sy ministerie het die afgelope twee jaar die belangrikheid van voedselsekuriteit ontdek. Volle eiendomsreg word aan boere aangebied om volhoubare landbou te verseker.
4 Oktober 2010