
Die drastiese verhogings in Sasria-tariewe op sekere voertuie wat op 1 Februarie 2022 in werking tree, skok Vrystaat Landbou (VL).
Luidens ’n verklaring sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL, dat die organisasie in September en Oktober verlede jaar van die verhogings deur agente en tussengangers in kennis gestel is. VL is “ongemaklik en geskok” deur die verhogings.
“Die nuwe tariewe vir trekkers, stropers, selfaangedrewe spuite en planters wat in die landbousektor gebruik word, kan groot aanpassings meebring. Dié drastiese verhoging is luidens die kennisgewing van toepassing op swaar kommersiële voertuie soos vragmotors wat vrag teen betaling vervoer.”
Wilken meen die aanpassings kan toegeskryf word aan die groot skade wat in Julie 2021 tydens onluste in KwaZulu-Natal aan vragmotors aangerig is.
Volgens hul berekenings word die tariewe op trekkers wat vir byvoorbeeld R2,8 miljoen verseker is, en ’n plaasvragmotor van R900 000 albei met 1 736% verhoog. Die verhogings vir ander plaastoerusting is soortgelyk.
“Die landbousektor, wat veral in die Vrystaat aan wesenlike ekonomiese probleme blootgestel is, kan nie die tariewe bekostig nie. As die berekening van die drastiese verhogings gegrond is op die skade aan kommersiële vragvoertuie gedurende Julie 2021, is dit onregverdig. Toerusting in die landbousektor word bykans nooit aan dié soort risiko’s blootgestel nie. Die verhoging is onsinnig en daar moet anders oor die klassifikasie van landboutoerusting besin word. Die landbousektor kan nie soos ’n melkkoei verder gemelk word nie.”