
Mnr. Marius Boshoff, bemarkingsbestuurder van die oesbeskermingsmaatskappy Villa, sê goeie reënval, tesame met die huidige warm toestande, skep ’n gunstige klimaat vir die uitbreking van die swam Sclerotinia. “Sclerotinia is ’n siekte wat voorkom ná hoë reënval, met gevolglike versuip- en strestoestande. Villa ontvang tans weekliks oproepe van boere wat met dié siekte by hul sojabone en sonneblomme sukkel,” sê hy.
Ongelukkig is daar in dié stadium van die produksiejaar min wat boere kan doen, want Sclerotinia moet voorkomend bekamp word. “Boere wat in droër gebiede boer, se gewasse loop erger onder die siekte deur omdat daar nie voorkomend gespuit word nie. Teen die tyd dat die siekte se simptome waargeneem word, is dit te laat,” sê hy.
Hoewel die swam tradisioneel die plant deur die blomme binnedring, gebeur dit tans deur die stamme. “Sclerotinia is moeilik om hok te slaan omdat die spore vier jaar tot vyf jaar lank in die grond kan wees. ’n Rotasieprogram waarin sojabone elke drie jaar met mielies afgewissel word, gaan dus ook nie help om die siekte te voorkom nie.”
Boshoff beveel aan dat boere die siekte probeer keer met ’n volhoubare swamdoderprogram. “Om Sclerotinia te bekamp, is ’n spesifieke chemiese middel nodig. Ons beveel aan dat boere vroegtydig teen die siekte spuit. ’n Konvensionele bewerking, wat die spore diep onder die grond begrawe, kan ook help,” sê hy.
Kopvrot
Dr. Rikus Kloppers, hoof van tegniese dienste by Pannar, sê die produksiejaar vir mielies het ver genoeg gevorder sodat die voorkoms van mieliesiektes begin afneem namate die oes wasdom bereik.
“Die groot hoeveelheid reën kan wel later in die jaar tot kopvrot by sekere aanplantings lei. Hoewel ons taamlik seker is dat gevalle van dié siekte later in die produksiejaar, net voor strooptyd, sal voorkom, sal die volle omvang daarvan eers later duideliker word,” sê hy.