
Tussen 1961 en 2003 het seevlakke wêreldwyd met 1,8mm gestyg, en sedert 2003 styg dit met sowat 3,4 mm per jaar.
’n Studie wat onlangs deur Umvoto Africa gedoen is, dui aan dat seevlakke weens klimaatsverandering teen 2100 reeds met sowat 2m sou gestyg het. Dié studie is in opdrag van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbestuur gedoen.
Mnr. Goosain Isaacs, woordvoerder vir die eenheid vir klimaatsverandering en biodiversiteit by die departement, sê vorige studies het bevind dat seevlakke langs die Ooskus jaarliks met 3,55mm styg, terwyl die Suid-Kaapse kus en Weskus se vlakke terselfdertyd met onderskeidelik 1,57 mm en 0,42mm styg.
Wes-Kaap
Volgens ’n berig in Die Burger het die navorsing wat Umvoto Africa gedoen het, op die Weskus-, Overberg- en Eden-munisipaliteite in die Wes-Kaap gefokus. Die gevolgtrekkings van die studie is aan die staande komitee oor en landbou en omgewingsbestuur voorgelê.
Volgens die berig het ’n verdere studie bevind dat storms wat deur stygende seevlakke veroorsaak word, Kaapstad oor die volgende 25 jaar tussen R5 miljard en R25 miljard kan kos.
Isaacs sê egter dié inligting moenie onnodige paniek veroorsaak nie. Hy stel voor dat studies in spesifieke gebiede gedoen word om te bepaal hoe die gebiede geraak gaan word en deur watter risiko’s hulle in die gesig gestaar word. Verder word aanbeveel dat buffersones onmiddellik gebruik word, en kusontwikkelings nader as ’n sekere afstand van die see af, nie goedgekeur word nie.
Bron: Die Burger