
Met perdesiekte wat hierdie tyd van die jaar geneig is om in baie dele van die land op te vlam, het Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) al sy energie daarin bestee om die entstof teen perdesiekte een van die eerstes te maak wat weer beskikbaar is ná die maatskappy sy omstrede opgraderingsproses.
Dr. Jacob Modumo, hoof van sake-ontwikkeling by OPB, het aan Landbouweekblad bevestig dat die opgradering, wat boere vir maande sonder kritiese entstowwe gelaat het, nou afgehandel is.
Entstof vir knoppiesvelsiekte is nou weer beskikbaar en 'n groot hoeveelheid entstof vir perdesiekte is aan die einde van Augustus vrygestel. Dit is opgevolg met 'n tweede groot aflewering aan verspreiders aan die einde van September.
'n Besending entstof vir Brucellose sou ook teen die einde van die week (3 Oktober) gereed wees vir lewering, met B-Pmemerol en Bloutong-entstof wat eers teen die einde van Oktober beskikbaar sal wees. Intussen beveel Modumo aan dat boere vlieg-afwerende middels gebruik om hul vee teen hierdie siektes te beskerm. "Net vir nog 'n maand," sê hy.
Vanweë sy statutêre mandaat en verpligting om entstowwe vir inentingsdoeleindes aan produsente beskikbaar te stel, het die OBP die afgelope twee jaar erg onder kritiek van boere en veeartse deurgeloop toe dit aan die lig gekom het dat produksie van entstowwe gestaak is terwyl die maatskappy sy geriewe opgegradeer het.
Baie boere het in hierdie tyd groot verliese gely en gedreig om OPB vir vergoeding te dagvaar. Regskenners meen egter hulle kanse op sukses is skraal.
Landbou.com se regsadviseur, mnr, Butch van Blerk, het daarop gewys dat die OPB se doelstelling en mandaat nie beteken dat hy altyd alle entstowwe in alle hoeveelhede beskikbaar sal hê nie. "As jy so ’n maatskappy aanspreeklik wil hou, sal jy byvoorbeeld kontrakbreuk deur die maatskappy moet bewys, soos dat hy nagelaat het om ’n bestelling waarop julle uitdruklik ooreengekom het, aan jou te lewer," het hy op 'n boer se vraag geantwoord.
Hoewel daar geen wet is wat ander maatskappye verhoed om hierdie entstowwe te vervaardig nie, verduidelik dr. Peter Oberem van Afrivet dat dit uit 'n finansiële oogpunt nie lewensvatbaar is vir private maatskappye om van hierdie entstowwe te vervaardig nie.