Die landbousektor het die potensiaal om 300 000 werksgeleenthede met skemas vir kleinboere en 145 000 poste in die verwerkingsbedryf vir landbouprodukte te skep, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Joemat-Pettersson het aan afgevaardigdes op ’n werksessie oor haar departement se sektorale plan gesê die finale plan moet ’n gebalanseerde en gesamentlike siening van die Regering en belanghebbendes wees. Die internasionale fokus verskuif van die primêre landbou na waardetoevoeging in die waardeketting.
Sy maan egter dat voedselsekerheid belangrik is en dat die waarde van produksie deur die primêre landbou nie gering geag moet word nie. Sy sê dit is belangrik dat daar ooreengekom word rakende ’n visie vir die volgende 20 jaar.
In die konsepplan word onder meer gelykheid en transformasie, billike groei en mededingendheid, omgewingsvolhoubaarheid en bestuur gepak. Rakende die verbetering van voedselsekerheid word voorgestel dat die produksiestrategie hersien moet word om nasionale en huishoudelike voedselsekerheid te bewerkstellig.
Lae produktiwiteit binne die landbou, bosbou en visserye moet ook aangepak word. ’n Nasionale beleid oor voedselsekerheid vir dié drie sektore sal die lig moet sien.
28 September 2010