
Om in die toekoms te kan oorleef, moet ’n mens weet wat die sleutelneigings is en jou eie toekoms daarvolgens ontwerp.
Robotboere, drukkers wat kos in kombuise druk, en hamburgervleis wat in 'n laboratorium gemaak word, is glad nie vergesogte toekomstige ontwikkelings nie, het mnr. Neil Jacobsohn, senior vennoot van Future World International, by AMT se vooruitskouingskonferensie gesê.
Radikale innovering vind teen 'n hoë spoed plaas, het hy gesê. Van die innovasies waaraan gewerk word, is bestuurderlose motors, die kweek van kos in laboratoriums, mielies wat 'n jaar lank kan groei en vlieënde trekkers.
In die algemeen is selfone een van die belangrikste drywers van verandering. Sowat 7,1 miljard mense het selfone teenoor slegs 2,2 miljard wat tandeborsels het. Mense op straat, met 'n foon in die hand, het nou meer mag as groot ondernemings, sê hy.
Jacobsohn het vertel hoe openbare druk in Brittanje daartoe gelei het dat 'n Amerikaanse koffiegroep belasting begin betaal het. Wanneer die publiek meer begin eis, skep dit uitdagings maar ook geleenthede.
Wêreldwyd word mense met groot golwe van verandering gekonfronteer. In so ’n “perfekte storm” kan ’n mens wegkruip en hoop dit gaan weg, of jy kan ’n wilde rit op jou branderplank onderneem.
In Suid-Afrika is die samelewing steeds verwring en is daar ’n breuk in vertroue. Elkeen moet hierby betrokke raak. “Geen Regering kan dit herstel nie.” Boere is aan die voorpunt deur hul interaksie met gemeenskappe.
Jacobsohn sê boere se optrede en hul hantering van byvoorbeeld die grondkwessie kan ‘n konteks vir die toekoms skep.