Net soos verskeie Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle nie getel is nie, is verskeie boere ook nie getel nie, sê ‘n sensusbeampte.
Mnr. Fanie Roos, ‘n inligtingsbeampte vir die landbou vir Sensus 2011, sê in samewerking met Agri SA word ‘n opname gedoen om vas te stel hoeveel boere nie getel is nie.
Met behulp van die opname sal Statistiek SA dié boere in kennis kan stel oor hoe hulle te werk moet gaan om getel te word. Die organisasie het Suid-Afrikaners wat nie getel is nie, tot 15 November kans gegee om vraelyste in te handig.
Voorvalle
Roos sê hulle is dankbaar dat min voorvalle van ongerymdhede op plase aangemeld is. “Sover my kennis strek is niemand op ‘n plaas aangeval deur iemand wat hom of haar voorgedoen het as ‘n sensusopnemer nie, en ander voorvalle van geweld het ook nie voorgekom nie.”
Volgens Roos is hulle wel bewus van voorvalle waar sensuswerkers boere se plase wou opmeet en snaakse vrae gevra het. “Dit is onmiddellik stopgesit, want daardie werkers het onder ‘n totale wanindruk verkeer.”
Die meeste van die voorvalle wat wel aangemeld is, het te doen gehad met opnemers wat laat was vir afsprake of sonder afsprake opgedaag het.
Hou Landbouweekblad dop vir meer inligting oor die sensusopname.
1 November 2011