‘n Protokol-ooreenkoms is tussen Agri SA en Statistieke SA onderteken vir wanneer sensus-personeel plase besoek.
Mnr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê hulle het die afgelope maande ook gereelde vergaderings gehad waartydens die basiese beginsels van veiligheid op plase en die identifisering van mense bespreek is.
“Ons het ook verduidelik hoe te werk gegaan moet word om met werkers te skakel. Statistieke SA het onderneem dat hulle personeel dié boere wie se besonderhede beskikbaar is, vooraf sal probeer skakel en ‘n besoek sal reël. Andersins sal die persoon die plaas besoek en vra wanneer die geskikte tyd is om die opname te doen,” vertel De Jager.
Ondersteun sensus
Volgens mnr. Johannes Möller, voorsitter, ondersteun Agri SA die sensus ten volle. “Veral in landelike gebiede en in die landbou is dit vir ons belangrik om betroubare inligting te hê oor die aantal inwoners, maar só ‘n sensus moet op ‘n ordelike manier gebeur.”
Mnr. Pieter Groenewald, ‘n verteenwoordiger van die VF Plus, sê hulle word oorval met navrae oor die sensus en hy raai Suid-Afrikaners aan om na hulle eie veiligheid om te sien.
Elke sensusopnemer sal homself/haarself maklik identifiseer, en sal in besit van sensustoerusting wees. Groenewald raai mense aan om die opnemer se inligting en identiteitsdokumente te vra voordat hulle toegelaat word om die perseel te betree. “Sensusopnemers gaan tans deur woonbuurte (en landelike gebiede) om adresse te bevestig. Daar is dus geen rede waarom hulle ‘n perseel moet betree nie. U kan nie verplig word om hulle toegang tot u huis of perseel te gee nie. U kan hulle by die deur of hekkie van inligting voorsien.”
Eerste voorval
Intussen het die eerste voorval van ‘n roof deur mense wat hulle as sensuspersoneel voorgedoen het, in Johannesburg aangemeld. Luidens ‘n berig op News24.com het twee mans ‘n man en sy vriend by hulle huis in Kensington beroof. Die mans het groen baadjies gedra en gevra om ingelaat te word omdat hulle opnemers is.
‘n Vuurwapen, kontant, ‘n skootrekenaar en Krugerrande is tydens die rooftog gesteel. Een van die aanvallers het ‘n skoot afgevuur, maar niemand is beseer nie.
Mense wat ‘n sensuspersoneellid se akkreditasie wil bevestig, kan 0800 110248 skakel.
Bron: News24.com
11 Oktober 2011