Vreemde sensusvrae word glo aan boere gevra en verskeie opnemers word weggewys omdat hul dokumentasie ontbreek.
Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, sê een boer moes bontstaan ná ’n opnemer sy ID-nommer vereis het en sy geboue wou opmeet. Die opnemer wou glo ook weet wat word in watter pakkamer op die plaas gehou.
“Ons het Statistieke SA gebel en hulle het gesê sulke optrede word nie toegelaat nie. Hulle het boere aangemoedig om nié mense wat sonder identifikasie by hulle opdaag, op hul plase toe te laat nie,” vertel Vermeulen.
Vinnige optrede
Intussen sê mnr. Dirk Hanekom, hoofbestuurder van Agri Gauteng, hulle het ’n situasie gehad waar ’n opnemer opgedaag het met die houding dat hy daar is om alles op te meet sodat dit oorgedra kan word aan ander mense. Die man het glo ook onmiddellik ’n dreigende houding ingeneem om met plaaswerkers te praat.
“Ons het dit bitter vinnig by Statistieke SA aangemeld, en hulle het onmiddellik teen die man opgetree,” vertel Hanekom.
Hy sê ’n paar gevalle van taaldiskriminasie is aangemeld, wat ook vinnig deur Statistieke SA opgelos is. Van die sensusopnemers het glo net Engelse of Sotho-vraelyste by hulle gehad, en het geweier om vraelyste in Afrikaans aan boere te voorsien.
“Statistieke SA het dié man uit die stelsel verwyder, want hulle is veronderstel om die nodige navorsing te doen en almal in hul moedertaal te bedien,” sê Hanekom.
Hardloop
Luidens ’n berig in Volksblad was ’n egpaar van ’n plaas naby Sun City baie onrustig oor die vrae wat vyf sensusopnemers aan hulle gestel het. Me. Anita Whittaker, wie se man ’n voorman op die plaas is, sê die mans het gevra na hul gesondheid en hulle wou weet of sy en haar man, Mark, nog goed kan sien, hoor en hardloop.
Die groep van vyf sensusopnemers het ook ’n gedailleerde kaart van die plaasopstal gehad en wou glo weet hoekom die kleur van die een plaashuis verskil van dít wat op die satellietfoto gesien kan word. Hulle het ook gevra hoeveel televisies en dies meer die egpaar besit.
Mnr. Trevor Oosterwyk, woordvoerder vir Sensus 2011, sê glo dit is in orde dat opnemers kaarte moet hê van die plase wat hulle besoek, sodat hulle weet waarheen om te gaan. Verder sê hy dit is ’n wêreldwye praktyk om vrae te vra oor mense se gesondheid en oor huishoudelike toerusting, want dit word as deel van lewenstyl en inkomste aangeteken.
Enigiemand met vrae oor Sensus 2011 of oor die opnemers wat hulle besoek, kan die inbelsentrum by 0800 110 248 skakel.
Bron: Volksblad
25 Oktober 2011