As mens op ’n plaas is, voel jy mos tuis, sê mnr. Pali Lehohla, statistikus-generaal. Hy het gereageer op vrae oor hoe die sensusopname in landelike gebiede verloop het.
Oor die verloop van die sensusopname in landelike gebiede het hy gesê die samewerking met boere was baie goed. “Ons het vooraf verskeie vergaderings met die georganiseerde landbou gehad en die samewerking was goed. Daar was goeie begrip oor die belangrikheid van ’n sensus en ek is nie bewus van enige ernstige slegte voorvalle nie.”
Lehohla sê probleme in landelike gebiede was die min tyd tot opnemers se beskikking en die gebrek aan geskikte voertuie om oor ontoeganklike terrein sommige plase te bereik.
Dit was die grootste vredestydse ontplooiing van mense in die land en 156 000 opnemers, koördineerders en toesighouers het gehelp om nagenoeg 14,5 miljoen huishoudings te besoek. Statistieke SA het ná die opname gesê bykans 99% van Suid- Afrika is deur sensusopnemers bereik.
1.2% nie getel
Die 1,2% van die gebiede wat nog nie getel is nie, sluit hoofsaaklik plaas- en stadskerngebiede in. ’n Opruimfase strek tot 14 November om hierdie gebiede te bereik. ’n Peiling wat tot 10 Desember duur, sal die volledigheid van die sensus evalueer.
’n Steekproef van sowat 200 000 huishoudings word daarby betrek. Statistieke SA streef daarna om vanjaar se sensus die noukeurigste in die geskiedenis te maak. Met die sensus van 1996 was die ondertellling geraam op 11% en in 2001 was dit 17%.
Die mikpunt is om dit tot ’n enkelsyfer te laat daal. Sowat 16 000 Suid-Afrikaners het geweier om getel te word, maar Lehohla sê sover hy weet, is nie een van hulle ’n boer nie.
4 November 2011