
Vyf gelukkige boere het nie net duisende se afslag op hul produksiekrediet by Senwes gewen nie, maar kan ook nou ander bystaan wat dit broodnodig het.
Senwes se Wen ’n Miljoen-kompetisie het op goeie nuus vir vyf wenners en vyf welsynorganisasies uitgeloop toe R1,3 miljoen se kontant aan die gelukkige wenners uitgedeel is. Mnr. Charlie Pearson van Vaalharts het met ’n allemintige R500 000 weggestap.
Landbouprodusente, wat gebruikers van somerproduksiekrediet by Senwes is en ten minste R100 000 by Senwes opgeneem het, het outomaties vir deelname aan die kompetisie gekwalifiseer.
Die vyf wenners is tydens ’n trekking by die Goldfields Casino in Welkom aangewys en elke wenner kon ’n welsynsorganisasie kies, wat ’n skenking van R60 000 ontvang het.
Juanita Taljaard-fonds
Pearson het sy R60 000 geskenk aan die Juanita Taljaard-trustfonds, wat geskep is om ’n jong meisie van Vaalharts te help om ’n kogleëre inplanting te ondergaan.
Die wenners was mnre. Charlie Pearson van Vaalharts (R500 000), Barend de Lange van Dealesville (R250 000), George Truter van Bloemfontein (R125 000), Uys van Heerden van Odendaalsrus (R75 000) en Ben Vosloo van Koppies (R50 000).
Die organisasies wat elk ? R60 000-skenking ontvang het, is die Juanita Taljaard-trustfonds van Vaalharts, Dealesville-hulpfonds, President Kruger Kinderhuis op Reddersburg, Mev. President Steyn Tehuis op Odendaalsrus en NG Kerk Weltevreden op Koppies. Volgens verteenwoordigers van die onderskeie instansies, sal die geld aangewend word vir opknappingsprojekte, welsynsprojekte en die delging van bedryfskoste.
Kyk hier na ’n video oor Juanita Taljaard, ‘n jong meisie met ’n hartprobleem wat onder meer ’n kogleëre inplanting moet ondergaan.